MOSSELBAAI NUUS - Na 'n onlangse berig in die Mossel Bay Advertiser en ander media dat Mufasa, die Mosselbaai-munisipaliteit se snuffelhond, 'n slag geslaan het teen poachers met 'onwettige perlemoen', was die Mosselbaai Inboorlinge Raad taamlik omgekrap.
Mnr Jan Maritz, die hoofadministrateur van die Mosselbaai Inboorlinge Raad verduidelik die gebeure van die dag:
"Ons is nie 'n politieke party nie, en ons is ook nie deel van die Khoi-staatsprogram onder die wetgewing van die Khoi en San Leierskapwet nie. Die Khoi is nog besig om aansoek te doen vir erkenning by die staat onder leiding van COGTA (Corporate Governance and Traditional Affairs) en CONTROLESA (Congress of Traditional Leaders South Africa). Dit is nie ons daai nie. Ons is die Suid-Afrikaanse inboorlinge wat Kleurling verklaar is met Wet 30 van 1950.
"Ons was by De Bakkestrand om ons regte op ons natuurlike hulpbronne uit te voer. Ons het skaars op die rotse gemaklik geword vir ons raad se byeenkoms, toe is die Seegrens Eenheid by ons.
Ons lig hulle toe in dat ons 'n reg het tot ons natuurlike hulpbron, veral kos (verwysing Verenigde Nasie Spesiale Rapporteur verslag met betrekking tot Inboorlinge en hul kos en hulpbronregte).
Die polisie het die Inboorlinge se perlemoen gevat en niemand gearresteer nie. Ons is nie poachers nie en ons is baie teleurgesteld dat die Suid-Afrikaanse Polisie Dienste (SAPD) teen die Inboorlinge gebruik word wat hulle veronderstel is om te beskerm."
Mnr Emilen Michell, een van Mosselbaai Inboorlinge Raad se administrateurs het die volgende te sê gehad: "Ons word gedurig geïntimideer en ge-harass sodra ons hier by die water kom. Ek het gevoel wat tans hier gebeur het, is baie onteienend en wreed. Die onkunde waarmee die wetstoepassers die wette op die Inboorlinge afdwing, is kommerwekkend.
Daar is Konstitusionele hofbevele rondom die regte van die Inboorlinge en die Inboorling-titel wat toegepas moet word. Vir hierdie rede het ons as Mosselbaai se Inboorlinge Raad toe die polisiemanne wat ons seekos afgevat het, aangekla.
Daar was ook geen Mufasa op die rotse betrokke nie.
Die polisiemanne het self ons kos van ons weggeneem."
Mnr Sores Florus, administrateur en uitvoerende lid van die Nasionale Inboorling Kongres en ook 'n monitor vir die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie sê hulle sal die dialoog rondom die Inboorlinge, wie hulle is en wat hulle regte is rondom hulle identiteit, verwelkom tussen die wetstoepassers, die department van seevisserye en die media.
Die Inboorlinge is nie poachers of kriminele nie, dit is die Inboorlinge wat Kleurling verklaar is met Wet 30 van 1950 wat vir Dias hier raakgeloop het en wat nog steeds hier is.
Ons monitor die situasie in die Mosselbaai- en Hessequa-munisipale areas."
- Uitgereik deur mnr Sores Florus, administrateur en uitvoerende lid van die Nasionale Inboorling Kongres.
Lede van die Mosselbaai Inboorlinge Raad by De Bakkestrand waar hulle byeengekom het om "ons regte op ons natuurlike hulpbronne uit te voer".
Lede van die Mosselbaai Inboorlinge Raad by De Bakkestrand waar hulle byeengekom het om "ons regte op ons natuurlike hulpbronne uit te voer".
Lede van die Mosselbaai Inboorlinge Raad.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'