MOSSELBAAI NUUS - Groot opwinding heers vir die beoordeling van die dansafdeling van die Mosselbaai Eisteddfod, wat volgende week in die Mosselbaaise stadsaal plaasvind.
Verlede jaar se inskrywings was 'n super-energieke, positiewe dansfees wat verstommende talent opgelewer het.
ArtSpace, wat die Eisteddfod aanbied, is bevoorreg om weer die gewilde internasionale danser and beoordeelaar, Joubert Jonker, te kon kry om die jong dansers met advies en leiding te bedien.
'n Rekordgetal inskrywings van ballet, kontemporêre dans, jazz, moderne dans, hip-hop/funk en klopdanse is ontvang. Daar sal 26 dansgroepe en meer as 75 solo-, duet- en trio-inskrywings beoordeel word.
Die beoordeling vind op Woensdag en Donderdag, 17 en 18 Mei, in die Mosselbaai-stadsaal plaas. Die publiek word aangemoedig om die talentvolle dansers in aksie te sien en te ondersteun.
Beoordeling begin 12:30 en vind plaas tot ongeveer 18:00 op beide dae. Toegang is R20 vir volwassenes en gratis vir kinders.
Die ander Eisteddfod genres word in Augustus, wanneer Mosselbaai 'n kunstemaand beplan, aangebied wanneer musiek, visuele kunste, drama en kletsrym beoordeel sal word. ArtSpace bedank die Mosselbaai-munisipaliteit vir die gebruik van die stadsaal vir die beoordeling volgende week.
Verdere inligting kan by Abé Meintjes verkry word (083 268 3718).
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’