MOSSELBAAI NUUS - Na totstandkoming in 2015, is die Mosselbaai Bo-dorp Buurtwag steeds sterk in 2025.
Dit is bevestig tydens die organisasie se algemene jaarvergadering waar die bestuur ook suksesvol herkies is.
Die vergadering het Donderdagaand by die Mosselbaai-gholfklub plaasgevind.
Sowat 30 inwoners van die Bo-dorp-area het die vergadering bygewoon, waar belangrike besluite oor die toekoms van die buurtwag geneem is. Tydens die vergadering is daar besluit dat die fokus vir 2025 op die werwing van nuwe patrollielede sal val.
Volgens die voorsitter, Wessel Kruger, is daar ongeveer 600 huishoudings in die Bo-dorp-area, maar slegs sowat 70 lede is tans aktief betrokke by patrollies. Die buurtwag word ook finansiëel ondersteun deur sowat 40 huishoudings.
“Ons probeer om dit vir vrywilligers so haalbaar as moontlik te maak. Die patrollies word in vier skofte van twee ure elk per aand opgedeel, en ons mik uiteindelik daarna dat elke persoon wat hulself tot patrollie-ry verbind, slegs een skof per maand hoef te doen,” het Kruger verduidelik.
Hiervoor word minstens 120 aktiewe patrolleerders benodig. Tans is dit nog nie moontlik nie en die aktiewe patrolleerders dra tans nog dubbel die las.
Alle patrollielede asook die SAPD is tydens die geleentheid bedank vir die groot rol wat hulle daarin speel om die Bo-dorp-area veilig te probeer hou.
Die Mosselbaai bo-dorp-area.
Lede wat al meer as 250 en meer patrollies gery het, is met prag sertifikate vereer.
Inwoners van die Bo-dorp-area wat graag betrokke wil raak by die buurtwag se patrollies of deur finansiële bydraes te maak, kan Johndre Strauss kontak by 084 690 8340 vir meer inligting.
Meer inligting is ook beskikbaar op die buurtwag se webtuiste http://www.bodorp.co.za. Die buurtwag hoop om met verhoogde betrokkenheid die veiligheid en gemeenskapsamehorigheid in die gebied verder te versterk.
Heerlike pizza is na die vergadering voorgesit vir die lede om te geniet. Handige geskenke is ook aan die lede oorhandig.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’