MOSSELBAAI NUUS - Die jaarlikse krieketfees het by Diaz Primêr op Saterdag, 26 Oktober, plaasgevind.
Die skool het ook 'n krieketkliniek vir jongelinge aangebied. Die dag was vir die onderrig van sewe- , agt- en negejarige leerders om hul krieketvaardighede op te skerp.
Leerders van verskeie skole in die Mosselbaai-omgewing het dit bywoon, insluitened laer skole soos Erika Primêr, St Blaize Primêr, Isalathiso Primêr, Imekhava Primêr, Garden Route Primêr, en selfs skole in die groter Mosselbaai area, soos St Luke's Primêr in Brandwacht en Grootbrak Primêr.
Timino Carelse, 'n onderwyser by Diaz Primêr, het die dag in samewerking met Suidwestelike Distrikte (SWD) Krieket gereël.
Carelse is ook die koördineerder vir Mosselbaai se KFC Mini-krieket. Gelukkig was die weer pragtig vir 'n dag om krieket in die buitelug te beoefen.
Die kinders het 'n dag propvol pret gehad - hulle het om die beurt geboul en gekolf. Afrigters en opvoeders, wat die leerders van die verskillende skole vergesel het, het nou met elke kind saamgewerk en waardevolle vaardighede vir die spelertjies geleer.
Sommige kinders was in kenmerkende rooi kortbroeke en wit hemde, met die KFC Mini-krieket-logo op die rug. Die skool het 'n snoepie voorsien wat drankies, skyfies en worsbroodjies verkoop het.
Opvoeders van die skole wat deelgeneem het, het saam met die kinders gewerk en hulle krieketvaardighede opgeskerp. Foto: Gabriélla Siebritz
Die kinders wat deelgeneem het, het wedstryde gespeel, maar net vir die pret. Geen punte was toegeken nie.
Mini-krieket is gedurende die 1982 en 1983-krieketseisoen in Suid-Afrika bekendgestel om die groei en ontwikkeling van krieket onder seuns en meisies van o.9- tot 13-jarige-ouderdom aan te moedig.
Baie suksesverhale spruit uit dié ontwikkelingsprogram, wat die hoeksteen lê vir groter dinge, het Carelse verduidelik.
Suksesverhale, wat met dié program vereenselwig kan word, sluit in die huidige Titans-krieketspeler Jhedli van Briesies, asook Tiché Frans (14), 'n Mosselbaaise plaaslike dogter, wat al haar staal gewys het vir die Garden Route Badger se o.16- meisiespan.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’