GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Drie mense is in die hospitaal ná hulle vroeg vanoggend, 18 Januarie, op Groot-Brakrivier met ’n mes aangeval is.
Die voorval het in OpiSpoor Restaurant en Pub se parkeerterrein ná toemaaktyd plaasgevind.
Twee personeellede en 'n kliënt is tydens die voorval beseer.
OpiSpoor eienaar, Gerrit Willemse, het vanmiddag met Mossel Bay Advertiser gepraat na hy by sy personeel (’n bestuurder en kroegman) in die hospitaal was. Hy was ook vlugtig by die kliënt.
“Dit was nie sommer net ’n messteek nie, hulle het baklei vir hulle lewens. Tussen die drie van hulle is daar meer as 25 steekwonde,” het ’n ontstelde Willemse gesê.
Volgens hom het sy bestuurder om 01:30 aangekondig dat dit die laaste geleentheid is om drankies te bestel. In daardie stadium was daar nog plus minus nege mense in die kroeg.
Hy sê een groep het klaargemaak en geloop en daar het vier mense oorgebly.
Twee mans wou om ongeveer 01:45 nog drankies bestel wat die bestuurder geweier het, waarna hulle die kroeg verlaat het. Kort daarna is die oorblywende man en vrou ook uit.
Volgens Willemse het sy personeel toe hulle toemaakprosedure begin. Hulle sluit die deure, draai tafels op hul koppe, ens.
In hierdie tyd het die personeel iemand by die deur hoor skree. Willemse sê dit gebeur soms dat mense buite ’n geraas maak en nog drankies vra.
Die kroegman het egter na buite gekyk en gesien daar gaan iets in die parkeerterrein aan.
Die twee mans wat die drankies wou bestel was buite en een was na bewering besig om die man wat laaste uit is met ’n mes te steek.
Die kroegman het gegaan om te help, maar is ook met ’n mes gesteek. Dieselfde het ook met die bestuurder gebeur toe sy probeer help.
Die twee verdagtes het na bewering ná die onderonsie weggehardloop en die slagoffers is weer in die kroeg in. Hulle het Willemse gebel waarna die polisie en nooddienste ontbied is.
Willemse se personeel is na Mosselbaai-provinsiale hospitaal en die kliënt na Life Bay View privaathospitaal. Volgens Willemse het hulle baie seergekry, maar is nie in lewensgevaar nie.
Sersant Lauriane Botha, woordvoerder vir die polisie op Groot Brak sê twee verdagtes, mans van 20 en 29 jaar, is tans in aanhouding en ’n klag van poging tot moord word ondersoek.
Die motief vir die aanval is nog nie bekend nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’