HARTENBOS NUUS - Die kykNET Buite Ekspo Suid-Kaap het van 20 tot 22 September op Hartenbos kom kuier en hope vermaak vir besoekers opgelewer.
Marius Opperman, eienaar van Trio Events (konsepeienaars en organiseerders van die ekspo), sê die naweek was 'n reusesukses.
"Dit was bietjie winderig en koud in die aande, maar dit het ons nie regtig geaffekteer nie; en die opkoms was beslis baie goed. Ons is baie tevrede."
Opperman sê die terugvoer wat hulle ontvang het was oor die algemeen baie goed, veral van die uitstallers se kant - hulle het flink sake gedoen.
"Dit was definitief 'n wenner en ons sal beslis terug wees, weer die eerste naweek van die skoolvakansie volgende jaar." Hy sê iets waaraan hulle sal werk vir volgende jaar is die beskikbaarheid van parkering.
"Ons is baie dankbaar vir die ondersteuning, nie net uit Mosselbaai/Hartenbos nie, maar die hele streek, en natuurlik mense sover as die Noord-Kaap, Kaapstad en Oos-Kaap.
Daar was tot iemand wat van Otjiwarongo gekom het om vir André de Villiers (van André 4x4) te kom ontmoet!"
Die amptelike bywoningsyfer vir hierdie jaar se ekspo is 15 377. Verlede jaar was dié syfer 10 500.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’