MOSSELBAAI NUUS - Die matrieks, die matrieks...
Inwoners en betrokkenes is klaarblyklik in twee kampe oor dié jonges, wat die afgelope paar dae te sien en te hoor is.
Mossel Bay Advertiser het Woensdagaand, 4 Desember, saam met Philip Mattheus, voorsitter van die Da Gamaskop Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), tussen die verskillende Matriekbaai-venues beweeg om 'n agter-die-skerms blik op dié fees te kry.
Bedags was dit Santos Dagparadys, waarna die jonges na die hooffeesterrein by Diaz beweeg het.
Dié venue het om 22:00 toegemaak en het ook Donderdagaand sy laaste vertoning gehad.
Van hiér is die spanne dan na die afterparties by of Bakgat of Mega Club, 'n nuwe toevoeging vanjaar, wat by die Langeberg Mall se ondergrondse parkering daagliks op- en afgeslaan word.
Fotogalery: So 'n paar Matriekbaai-oomblikke vasgevang
Van Vrydag af was dit Amfihart, met die fees wat Saterdag finaal afgesluit het. Soos 'n mens in Louis Fourieweg afry, sien jy die jong mense sommer van Bakgat na Langeberg Mall stap.
Langs dié roete was daar buurtwag- en GPF-lede teenwoordig om bystand te verleen indien nodig.
Verskeie van die lede is dan ook by die verskillende punte waar die jong mense op- en afgelaai word om hulp te bied waar nodig. Die partytjiegangers maak meestal gebruik van Matriekbaai-vervoer.
Tussen 30 en 40 bussies is beskikbaar. Een voorbeeld van die bystand wat die GPF bied, was 'n geval waar 'n jong man in 'n elektriese rolstoel hulp nodig gehad het om sy rolstoel van Diaz na die volgende venue te kry.
Mattheus het gou 'n oproep gemaak, 'n bakkie gereël, en siedaar, almal is mobiel en op pad. Mattheus sê hulle doen dit suiwer as vrywilligers.
Daar is tussen 40 en 50 vrywilligers op 'n aand en hulle is die hele aand lank tot 04:00 die oggend op hul verskillende poste.
Hy sê hulle kyk na die kinders soos hul eie en is daar, op die grond, besig om verhoudings met hulle te bou.
Teen dag drie of vier is dit sommer "Hallo, oom Phil" of "Hallo, tannie Hannelie" (die GPF sekretaresse), wanneer hulle dié twee sien. So ook met die ander vrywilligers.
Ten spyte hiervan, is daar egter steeds klagtes uit sekere oorde in die gemeenskap. Een inwoner van Dias, Wimpie Besselaar, het sy misnoë met die hele situasie uitgespreek.
Hy meen hy moes al self die jong mense in die vroeë oggendure stilmaak en dat hulle nie respek het vir die reëls nie.
Hy meen ook die polisie tree nie teen hulle op wanneer nodig nie en wanneer hulle opdaag, is hulle onprofessioneel.
"Voor die volgende Matriekbaai moet ons mense van die Dias-gemeenskap genader word met die reëls en die wette van die event sodat ons ook 'n besluit het om met die ongerief saam te leef.
"Ek sal seker maak dat ek by dié vergaderings is. Ek waardeer die mense van die gemeenskap wat wel hard probeer om die situasie in toom hou. Maar daar is nie genoeg mense om die dronk mense in beheer te hou nie."
Besselaar sê hy is nie alleen in sy ontsteltenis nie. Hy was ook reeds by die Da Gamaskop Polisie om sake in dié verband aan te meld.
By navraag het polisiewoordvoerder, sers Chris Spies, gesê die polisie is voorbereid op enige gebeurlikhede in hierdie tyd op Mosselbaai en plekke soos Plettenbergbaai.
Hy sê daar is nog geen ernstige insidente met betrekking tot Matriekbaai gerapporteer nie en enige insidente van onprofessionele gedrag deur polisielede kan onder die aandag van plaaslike polisiebestuur gebring word.
Die hoof van sigbare polisiëring vir die Da Gamaskop Polisie, kol Eddy Williams, was ook Woensdagaand by Matriekbaai en het self aan die Advertiser bevestig dat daar nog geen ernstige insidente tot in daardie stadium gerapporteer is nie.
Hy was ook in gesprek met Besselaar.
Williams en Mattheus was dit eens dat die samewerking tussen die verskillende rolspelers die wêreld se verskil by dié geleentheid maak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’