MOSSELBAAI NUUS - Met net drie maande in die jaar oor is die Mosselbaai-gebied tans 248,4 mm onder sy gemiddelde langtermynreënvalsyfer van 435 mm per jaar.
Só staan sake tot en met 7 Oktober.
Wayne Venter, ’n voorspeller vir die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD), het hierdie week met Mossel Bay Advertiser oor die Tuinroete, en spesifiek Mosselbaai, se reënvalsyfers en -tendense gepraat.
Venter sê die Tuinroete in sy geheel is tans in ’n matige vlak van droogte met die potensiaal om na ernstig oor te gaan indien die jaar se tendens soos tot dusver voortduur.
Hy sê egter in vergelyking met sy bure staan Mosselbaai in hierdie stadium die sterkste in terme van watersekerheid.
Mosselbaai het tot dusver waterbeperkings vrygespring, terwyl George en dele van die Oudtshoorn munisipale gebied nie so gelukkig was nie. Volgens Venter is George se gemiddelde langtermynreënvalsyfer 579 mm en Oudtshoorn s’n 203 mm. George het sover hierdie jaar 294,2 mm reën gehad en Oudtshoorn 136 mm.
By navraag het die Mosselbaai-munisipaliteit gesê daar is geen rede tot kommer rakende dié dorp se watersekerheid nie.
“Die Wolwedansdamvlak was op 6 Oktober 81,25 %. Dit moet laer as 60% wees voor daar ’n moontlikheid van waterbeperkings oorweeg kan word. Mosselbaai het laas in 2011 enige waterbeperkings ingestel.”
Ten spyte hiervan benadruk die munisipaliteit in dieselfde asem dat Suid-Afrika een van die mees waterskaarse lande ter wêreld is, ongelyke reënval kry en ’n groeiende vraag na water het weens bevolkingsgroei en ekonomiese ontwikkeling. “Daarom is dit altyd raadsaam om water spaarsamig te gebruik, selfs al is daar voldoende water en geen waterbeperkings.”
Hoewel hulle seisoenale voorspellings aandui dat die res van die jaar moontlik bogemiddelde reënval kan inhou, sê Venter ook hul modelle is nie altyd só akkuraat wanneer dit by die Wes-Kaapse somer- en lentevoorspellings kom nie - omdat dié gebied eintlik winterreënval kry en ook baie meer faktore as die binneland het wat sy weer beïnvloed.
Die Advertiser het ook vir die munisipaliteit gevra hoe erg die dorp se watersituasie moet wees voor hy die seewaterontsoutingsaanleg in Voorbaai sou inspan.
Dié aanleg, ter waarde van R210 miljoen, is gedurende 2011 gebou toe die Suid-Kaap ’n ernstige droogte ervaar het.
Die munisipaliteit sê hierdie fasiliteit word net in sy volle kapasiteit gebruik indien die Wolwedansdam se vlak tot onder 30% daal.
“Die ontsoutingsaanleg word van tyd tot tyd in produksie geplaas, soos nodig. Een so ’n voorbeeld is tydens Augustus 2025 om die Langeberg-reservoir se water aan te vul tydens noodherstelwerk aan die hooflyn wat water vanaf die Klein-Brakrivier-watersuiweringswerke aan die reservoir verskaf. Die produksiekoste is ongeveer R25 per kiloliter.”
Gevra oor of daar kommer oor enige spesifiek gebiede is, het die munisipaliteit gesê die lewering van boorgate wat water aan Buisplaas voorsien neem histories tydens droë periodes af.
“Die stand van damme en watervoorsiening in Mosselbaai is ’n staande besprekingspunt op die agenda van die munisipaliteit se rampsbestuursadviesforum, wat in September vergader het. Die forum vergader kwartaalliks. In die geval van watertekorte, soos in die geval van Buisplaas, is dit standaardprosedure dat munisipale watertenkers ontplooi word om in die aanvraag te voorsien.”
Vrae oor die Tuinroete se algehele watersekerheid is ook aan die departement van water en sanitasie gestuur. Klik hier om meer dáároor te lees: Department of Water and Sanitation comments on Garden Route’s water security
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’