Update Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - ‘n Bejaarde inwoner van Groot-Brakrivier wat op sy hoewe aangeval is, is gister per helikopter vanaf die George hospitaal na die Groote Schuur hospitaal in Kaapstad oorgeplaas.
Die slagoffer, wat in sy laat 70’s is en intussen geïdentifiseer is as Colin Bone, is steeds in ‘n koma ná hy ernstige kopbeserings opgedoen het.
Bone het alleen saam met sy drie Jack Russels op die kleinhoewe gewoon en is vermoedelik Sondag aangeval.
‘n Buurman, Tiny Lourenco, het gisteroggend op ‘n erg beseerde Bone afgekom waar hy in ‘n plas bloed langs ‘n bed in die huis gelê het.
Hy is vermoedelik met ‘n piksteel en 'n klip aangerand.
Bone se wit Opel Astra is gesteel en is met die hulp van kameras by Klein-Brakrivier in die rigting van Kaapstad opgemerk. Nog niemand is in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Sy vuurwapen is ook vermoedelik gesteel asook 'n selfoon.
Lourenco het onraad vermoed toe hy by die eerste plaashek wat na die kleinhoewe lei gestop het, en gesien het dat die slot op die grond lê. By die tweede plaashek was nog 'n slot weg. Hy het 'n afspraak met Bone gehad omdat hy daarin belanggestel het om die kleinhoewe te koop.
“Colin is ‘n perfeksionis en ek het dadelik onraad vermoed,” het Lourenco aan die Mossel Bay Advertiser gesê.
Lourenco het daarna gesien dat die motorhuis oopgebreek is en het toe ondersoek by die woning ingestel.
“Ek het om die huis gestap en bloed by die agterdeur gesien. Colin se bril het in ‘n sloot gelê en ek het dadelik die polisie gebel.”
Lourenco sê hulle het 'n ernstig beseerde Bone in die huis aangetref. Een van die honde het onder ‘n bed weggekruip en die ander twee het by Bone gelê. Daar was ook bloed in die sitkamer.
'n Familielid van Bone het gesê die familie gaan vir eers geen kommentaar lewer en het gevra dat hulle privaatheid gerespekteer word. "Ons het tyd nodig om die gebeure te verwerk."
Die Groot-Brakrivier polisie ondersoek 'n saak van huisroof en poging tot moord.
Vorige artikel: Man kritiek na aanval op plaas
VIDEO:
'n Buurman van Colin Bone het by hierdie hek gestop en onraad vermoed toe hy die slot van die hek op die grond sien lê het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’