MOSSELBAAI NUUS - Een van die twee verdagtes wat in hegtenis geneem was in verband met 'n mesaanval by Opi Spoor Restaurant en Pub op Groot Brak bly in aanhouding tot 4 Februarie.
Die verdagte, Heinrich Riddles (20) het Vrydag vlugtig in die Groot-Brakrivier landdroshof verskyn.
'n Kliënt, Hugo Botha, Chelsea Fort - bestuurder van Opi Spoor Restaurant en Pub op Groot Brak -, en die restaurant se kroegman is na bewering deur Riddles aangeval.
Die motief vir die aanval is onbekend.
Botha is altesaam 12 keer met ’n mes gesteek. Fort het 15 meswonde opgedoen.
Die tweede verdagte wat in hegtenis geneem is, was vrygelaat. Die Mossel Bay Advertiser het navrae aan die polisie oor die rede vir die vrylating gestuur maar het tot op hede nog nie terugvoer ontvang nie.
Die man se identiteit kan nie bekend gemaak word nie omdat hy nie in die hof verskyn het nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’