Video
MOSSELBAAI NUUS - Sommige mense kan nie eers siende ’n spyker met ’n hamer raakslaan nie, en dié man doen dit sommer blindelings!
Gerswin Adams (37), ’n inwoner van Mosselbaai, het gedurende die afgelope dekade eers die sig in sy regteroog, en ’n paar jaar later toe ook in die linker een, verloor.
Maar ten spyte van die feit dat hy nie kan sien nie, het hy sowat vier maande gelede ’n nuwe passie vir houtwerk ontdek.
Vóór die wêreld rondom hom egter in duisternis gehul was, het hy vir byna 20 jaar lank as dekmatroos op vissersbote gewerk, sê hy. Dis toe ook op dié einste bote waar twee onderskeidelike voorvalle (een in die Kaap en die ander in Mosselbaai) hom van sy sig beroof het.
VIDEO: Gerswin vertel meer oor sy houtwerkproses
Video: Linzetta Calitz
Tydens die een het daar ’n staaldraadvesel in sy regteroog beland, en met die ander het ’n tou hom op sy linkeroog getref. Tydens albei is sy korneas ernstig beskadig. Vir die linkeroog het hy selfs ’n korneaoorplanting gekry, maar dié het sy liggaam verwerp én hy het daarna boonop nog ’n hou op sy oog ook gekry, wat die spreekwoordelike finale spyker in die doodskis was, wat sy sig betref.
Gerswin Adams sit in sy sitkamer en verduidelik hoe hy sy houtwerk aanpak. Foto: Linzetta Calitz
Adams sê hy onthou nog die oomblik toe die dokter hierdie harde werklikheid met hom gedeel het: “Mnr. Adams, jy is blind. Ons kan nou niks vir jou doen nie.”
Hoewel hy aanvanklik ’n gevoel van hopeloosheid gehad het, en selfs in ’n stadium oorweeg het om sy lewe te beëindig, kon hy homself darem uit dié donker plek kry.
“Ek het vir myself gesê dit gaan nie vir my werk nie. En om plat te gaan lê, dit gaan ook nie werk vir my nie, so toe het ek myself opgestoot, beginne dinge vir myself doen, beginne loop... soos in die huis help ek my vrou [Grissel] aartappels skil en met wat ek nog kan doen.”
En so midde-in sy aanpassing tot sy nuwe manier van lewe, sê hy het hy “houtwerk beginne agterkom” - hy laat dit sommer heel eenvoudig ook klink!
Een van die stelle tafels en bypassende bankies wat Adams gemaak het. Foto: Verskaf
“Ek het net eendag... hier het ’n paar planke gelê, toe maak ek ’n bank.” En dan beduie hy hoe hy met sy hande die patrone voel waarmee sy kop vorendag kom. Daar is natuurlik plekke waar hy hulp of aanwysings nodig het, maar Adams weet beslis wat hy wil hê en hoe dit moet lyk.
“Ek design dit in my brein, en dan voel ek dit só met my hande, en presiés is dit so. Jy kan maar vir my vrou ook vra, ek is baie strict. As die manne my kom help, en ek sê: ‘Manne, maar dit voel nie reg so hier aan die een kant nie,’ dan strý hulle: ‘Maar jy kan nie sien nie!’ dan sê ek: ‘Maar my hande sê vir my!’”
Adams wys hoe hy die patrone op een van sy tafels voel. Foto: Linzetta Calitz
Hy demonstreer hoe hy een dunner plankie aan ’n groter een vasspyker - die kleiner een dien dan as ’n gids waarlangs hy die groter plank kan saag. Grissel lag en meen sy knyp maar met tye oë toe as hy die hamer beetkry, maar hy het sy metodes. Sy groot droom is om eendag ’n versteksaag te kan kry, ’n stuk kraggereedskap wat onder andere vir akkurate dwars- en hoeksnitte gebruik word.
Só gebruik Adams ’n dunner plankie as gids wanneer hy saag. Foto: Linzetta Calitz
Maar intussen woel hy voort met dit wat hy tot sy beskikking het. Hy het nou al stelle tafels en bypassende bankies gemaak, asook lessenaars en planthouers. Onlangs het hy ook vir iemand ’n kombuiseiland gemaak, en hy reken hy sou nogal daarvan hou om ’n hele kombuis te doen.
Die kombuiseiland war Adams onlangs voltooi het. Foto: Verskaf
As nog ’n ekstra projek vir die pret is hy ook tans besig met ’n tafel wat die Suid-Afrikaanse landsvlag op het - in sy finale vorm sê hy die tafel gaan al die vlag se kleure ook dra.
Adams wys die tafel met die Suid-Afrikaanse landsvlag daarop waarmee hy tans besig is. Foto: Linzetta Calitz
Adams is in hierdie stadium maar afhanklik van skenkings van enige boumateriaal om hierdie passie van hom uit te leef, maar sou dit graag mettertyd in ’n besigheid wou omskep.
Sou jy Adams se houtwerk op die proef wou stel of selfs ’n skenking maak, kan jy hom per WhatsApp op 064 200 8016 kontak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’