GARDEN ROUTE NEWS - 'n Motorfietsryer wat na bewering vir verkeerspolisie weggejaag en daarna naby Groot-Brakrivier in 'n ongeluk was, is gewaarsku om op 27 Februarie in die Albertinia-landdroshof te verskyn.
Daar is 'n klag van roekelose en/of nalatige bestuur teen hom.
Op 29 Januarie, die dag van die voorval, het Groot-Brakrivier polisiewoordvoerder, sers Lauriane Botha, gesê ‘n voorlopige ondersoek dui daarop dat verkeerspolisie gepoog het om die man van die pad te trek omdat sy motorfiets na bewering onder meer nie ‘n nommerplaat gehad het nie.
Die motorfietsryer was vanaf Albertinia in die rigting van Groot-Brakrivier onderweg.
“Verkeerspolisie het hom van die pad probeer trek, maar hy het na wat verneem word versuim om te stop. ‘n Jaagtog het ontstaan en die motorfietsryer het in die rigting van George gery toe nog ‘n verkeersvoertuig hom naby Glentana op die N2 probeer aftrek het,” sê Botha.
Hy het na wat verneem word beheer oor sy motorfiets verloor.
Die man is ná die ongeluk na 'n hospitaal geneem en is dieselfde dag nog ontslaan.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’