Kinders wat in die beboste area gespeel het, het om ongeveer 17:00 op die lyk afgekom.
'n Voetganger is deur die kinders genader, waarna 'n patrollievoertuig van die Groot-Brakrivier SAPD toevallig verby die toneel in Amy Searlestraat gery het.
Die voetganger het die polisielede, Ao Gaylord Muller en Ao Gerhard Crause, van die liggaam ingelig, waarna hulle die toneel besoek het.
Die vrou het in 'n L-vorm onder takke, ongeveer 50m van die pad af gelê. Sy het slegs wit sokkies en 'n pers baadjie aangehad.
Haar onderlyf was kaal en haar broek is agter haar op die toneel gevind. Daar was nie tekens van onderklere nie.
Weens die ontbindingsproses van die liggaam, kon die oorledene teen druktyd nog nie uitgeken word nie.
Lang, swart gevlegte hare en 'n swart kol op die grond was Donderdagoggend die stille getuienis van haar tragiese dood.
Intussen het die pa van 'n 15-jarige meisie wat in Wolwedans woon, op Donderdag 24 Oktober sy dogter as vermis by die plaaslike polisiestasie aangemeld.
Sy is glo reeds ongeveer twee weke vermis.
Die kledingstukke waarin die 15-jarige kind laas gesien is, stem op hierdie stadium ooreen met van die kledingstukke wat op die toneel gevind is.
Alhoewel die vermoede bestaan dat die oorledene verkrag en vermoor is, kon dit teen druktyd nog nie bevestig word nie.
Die toneel het nie genoeg leidrade bevat om iemand dadelik met 'n moord te verbind nie. 'n Nadoodse ondersoek is op die liggaam gedoen.
Enigeen met inligting kan die ondersoekbeampte in die saak, kst Wesley Louw, kontak by 044 620 8309.
Ao Gaylord Muller hurk langs die plek waar die lyk gevind is.
ARTIKEL EN FOTO'S: LOUISE KARSTEN, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'