Update
MOSSELBAAI NUUS - Vroeër die maand het die Mossel Bay Advertiser 'n uitnodiging van Jan Rossouw en Frans le Roux ontvang om op 5 Desember hul woning, Villa Du-Baai in Danabaai te besoek wanneer hulle hul kersliggies aanskakel.
Om so ongeveer 21:00 die afgelope Maandagaand het ek, my kinders en ander geselskap in twee voertuie na P. Cynariodesstraat 20 vertrek.
Ek weet nie wat ons verwag het nie, maar toe ons om die draai by Cynariodes kom, het die kersliggies van Villa Du-Baai ons almal se asems weggeslaan. Die kinders, en ek, het spontaan begin skree van pure opgewondenheid.
Jan en Frans kom van Welkom af en het ongeveer drie maande gelede in Danabaai ingetrek. Hulle het jaarliks hul huis met liggies in Welkom verlig en het besluit om die tradisie in Danabaai voort te sit. Dit het hulle ongeveer 'n maand en 'n half geneem om al die voorbereidings te tref. Dit is moeilik om te sê presies hoeveel kersliggies daar is maar Jan skat dit is ongeveer 30 000. "Ons sal graag volgende jaar nog groter wil gaan," sê Jan.
Daar is nie net pragtige kersliggies nie maar ook 'n fotohokkie waar gesinne saam 'n foto kan neem. Daar is ook 'n uitstalling wat nagemaakte sneeu in die lig opskiet en kersliedere wat oor 'n luidspreker speel.
Ons besoek aan die huis was 'n welkome herinnering dat Kersfees 'n tyd van liefde en vreugde is en my dogters se oë het van opgewondenheid geskitter. Jan sê hulle verwelkom graag besoekers by hulle huis en wil Kersvreugde weer in mense se harte terugbring. "Die liggies is 'n simbool om vir mense te wys daar is nog liefde en omgee in die wêreld en dat ons Jesus se geboorte vier."
Die liggies word saans vanaf 20:00 tot 22:00 by P. Cynariodesstraat 20 aangeskakel en sal tot 1 Januarie, 2023 saans flikker.
Vorige artikel: Liggiehuis verlig harte
Inwoners Jan Rossouw en Frans le Roux het uitsonderlike uitstallings soos hierdie een in hulle woning in Danabaai.
Enigeen is welkom om die huis in P. Cynariodesstraat 20 in Danabaai te besoek en hulself aan die asemrowende liggies te verkyk.
Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'