MOSSELBAAI NUUS - Vroeër die maand het die Mossel Bay Advertiser 'n uitnodiging van Jan Rossouw en Frans le Roux ontvang om op 5 Desember hul woning, Villa Du-Baai in Danabaai te besoek wanneer hulle hul kersliggies aanskakel.
Jan en Frans kom van Welkom af en het ongeveer drie maande gelede in Danabaai ingetrek.
Hulle het jaarliks hul huis met liggies in Welkom verlig en het besluit om die tradisie in Danabaai voort te sit.
Dit het hulle ongeveer 'n maand en 'n half geneem om al die voorbereidings te tref. Dit is moeilik om te sê presies hoeveel kersliggies daar is maar Jan skat dit is ongeveer 30 000. "Ons sal graag volgende jaar nog groter wil gaan," sê Jan.
Daar is nie net pragtige kersliggies nie maar ook 'n fotohokkie waar gesinne saam 'n foto kan neem. Daar is ook 'n uitstalling wat nagemaakte sneeu in die lig opskiet en kersliedere wat oor 'n luidspreker speel.
Jan sê hulle verwelkom graag besoekers by hulle huis en wil Kersvreugde weer in mense se harte terugbring. "Die liggies is 'n simbool om vir mense te wys daar is nog liefde en omgee in die wêreld en dat ons Jesus se geboorte vier."
Die liggies word saans vanaf 20:00 tot 22:00 by P. Cynariodesstraat 20 aangeskakel en sal tot 1 Januarie, 2023 saans flikker.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'