GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Laerskool Vorentoe spog vanjaar met Solidariteit se wenner vir die kleuterskoolonderwyser van die jaar.
Dié gr. RR-juffrou. Talana Roodt, sê met die onvoorspelbaarheid van kleuters in gedagte het sy een goue reël: As iets nie werk nie, verander dit met entoesiasme!
"Kleuters volg jou energie. En onthou, musiek maak alles reg!" sê sy.
Roodt het ná haar studies aan die Noordwes-Universiteit haar onderwysloopbaan in 1990 begin. Sy het al vir verskeie grade skoolgehou, maar onderwys vir die jongstes lê haar die naaste aan die hart.
"Kleuteronderwys is kindertjies se eerste tree om die wêreld daar buite te ontdek en hulle wegspringplek en grondslag vir toekomstige leerervarings in die skool te vorm. Dit was nog altyd my droom om 'n klaskamer te skep waar elke kindjie veilig, welkom en geliefd voel; waar verbeelding vlerke kry en nuuskierigheid koning kraai.
"Dit is 'n voorreg om klein kindertjies elke dag te leer om met 'n glimlag deur die lewe te stap en hulle daaraan te herinner dat hulle waardevol in God se oë is."
Talana Roodt (regs) en haar laatlamdogter (gr. 12) Elizma.
Soveel as wat sy hulle leer, leer hulle háár ook elke dag iets nuuts. "Om met oorgawe te lag, te vergewe sonder oordeel, nuuskierig te bly en elke dag die wêreld deur hulle oë te sien - 'n plek vol moontlikhede."
Hoewel hierdie vormingsjare 'n groot verantwoordelikheid is, sê Roodt sy word elke dag beloon met klein oorwinnings, en boonop kom elke dag met sy eie gunstelingoomblikke.
"Tussen elke dag se verfstrepe, taai handjies en moddervoetjies lê ons mooiste stories."
Sy gee ook 'n aanhaling wat dit vir haar mooi opsom: "We don't remember the days, we remember the moments."
Die skool sê hy is saam met Roodt opgewonde oor die toekenning en ook dankbaar dat sy deel van die Vorie-familie is. Roodt sê die toekenning is 'n groot eer. "'n Mens besef nie altyd die impak van onderwysers nie. Só 'n toekenning bevestig dat ons lewens aanraak en 'n verskil maak. Dit is 'n voorreg."
Die Solidariteit-onderwyser van die jaar is 'n landswye kompetisie. Hier is die laer- en hoërskoolwenners:
- Kayleigh Bell van Laerskool Horison, Randfontein
- Eghard Basson van Helpmekaar Kollege, Johannesburg.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’