OUTDSHOORN NUUS - Avontuurlustiges en kunsliefhebbers kan gereed maak om die Klein-Karoo saam met Lizz Meiring te verken en dit boonop vir 'n goeie doel.
Meiring, bekende aktrise, regisseur, vervaardiger, TV-aanbieder, seremoniemeester, kunsaktivis, kreatiewe konsultant en skrywer, sal jou op 'n ongelooflike tog deur die Klein-Karoo neem.
'n Reis historiese plekke met sandsteenkerke, katedrale en sinagoges, wat die geloof en kultuur van die streek uitbeeld. Dit sal alles gebeur wanneer Mering en haar goeie vriendin en die kranige stapper, Sandra Odendaal, in dié omgewing kom kuier.
Sandra gaan die Camino van die Sandsteenkerke stap om fondse vir Solidariteit Helpende Hand in te samel, terwyl Lizz haar program "Van Die Rak Af", aanbied.
Dié onvergeetlike reis word deur die Klein Karoo Camino aangebied en bied 'n kombinasie van kultuur, natuur en vermaak aan.
Die gebeurtenis skop op Sondag, 10 November, by die Baron's Palace Hotel op Oudtshoorn af.
Die volledige program
• Dag 1: Sondag, 10 November: geniet die Klein-Karoo vanaf die Baron's Palace Hotel.
• Dag 2: Maandag, 11 November: vertrek almal na Dysselsdorp se Kruiskerk. Die stappers stap daarvandaan na De Rust terwyl die res van die groep na De Rustica Olyfplaas vertrek vir 'n olyfproe.
• Dag 3: Dinsdag, 12 November: die stappers stap van De Rust na De Rustica vir 'n olyftoer. Die res van die groep besoek Oudtshoorn se historiese geboue en sluit die dag af met 'n sterrekyk en aandete.
• Dag 4: Woensdag, 13 November: verken die groep die Kango-grotte en geniet 'n middagete by die NG Gemeente Kangovalleie se Bybelse Tuin. Die aandprogram sluit Lizz Meiring se optrede in die Oudtshoorn burgersentrum se ouditorium in.
• Dag 5: Donderdag, 14 November: eindig die reis met 'n besoek aan die NG Moedergemeente en 'n afskeidsete by De Krans Wynlandgoed op Calitzdorp.
Die publiek sal die geleentheid kry om Lizz by die volgende plekke in aksie te sien:
• Sondag, 10 November: op Graaff-Reinet by die Laer Volkskool.
• Woensdag, 13 November: by die Oudtshoorn burgersentrum.
• Donderdag 14 November: op Calitzdorp by De Krans Wynlandgoed.
• Vrydag, 15 November: op Mosselbaai by die Hoërskool Punt.
• Saterdag, 16 November: in George by die Eden Gemeente.
"Die Camino van die Sandsteenkerke is meer as net 'n toer. Dié inisiatief is daarop gemik om mense se lewens te verryk deur hulle aan die omgewing en mekaar te verbind, terwyl fondse ingesamel word vir Solidariteit Helpende Hand se projekte om gemeenskappe te ontwikkel," sê Alisha de Lange, Solidariteit Helpende Hand se streeksbestuurder van die Wes-Kaap.
Besoek www.kleinkaroocamino.co.za vir meer inligting.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’