MOSSELBAAI NUUS - Met dagtemperature wat die afgelope naweek en week onder 20°C gedaal het, en wydverspreide reënbuie wat oor die Tuinroete-distrik val, is herfs amptelik gegroet en winter op hande.
Volgens die Suid-Afrikaanse Weerburo is die grootste reënvalsyfers en vloedskade tans beperk tot die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal.
Verskeie kusdorpe in Suid-Afrika het erg deurgeloop onder verspreide donderbuie. Sneeu en hael is ook aangemeld in verskeie streke.
Berigte en video materiaal op sosiale media bevestig dat ten minste twee tornado's in KwaZulu-Natal voorgekom het en groot skade aangerig het.
Plaaslik in Mosselbaai het het daar die afgelope naweek en ook vandag goeie deurdringende reën geval. Die nat weer het egter twee ongelukke vanoggend op die N2 veroorsaak. Mosselbaai brand-, reddings- en rampbestuursdienste het op die afsonderlike voorvalle gereageer. Geen ernstige beserings is aangemeld nie. Motoriste word gemaan om versigtig te bestuur in die nat weerstoestande.
Hierdie voertuig het op sy sy te lande gekom.
Die bestuurder van die voertuig het beheer oor sy voertuig verloor.
Gister, op 3 Junie was die Wolwedansdam reeds 97,70% vol. Die Ernest Robertsondam in sy bo-loop, is op 10 Mei gemeet op 98,63%. In ooreenstemming met dieselfde tyd verlede jaar was beide damme egter meer as 100% vol. Die unieke inheemse plantegroei van die Tuinroete het hierdie reën egter nodig na ons warm somer.
Die pad onder deur die nuwe brug in Garretstraat, Voorbaai, is gesluit vir verkeer. Foto: Jannie du Plessis
Volgens Chris Meyer, 'n inwoner van Danabaai wat sy eie weerstasie by sy woning bedryf, het Danabaai net oor die naweek 50mm reën gemeet. "Met die kouefront wat gister en deur die nag van die Kaap af deurgekom het, het ek tot dusver vandag, Dinsdag 4 Junie, nog 20 mm gemeet," sê Meyer.
Môre, Woensdag, 5 Junie, word die kans op reën op 30% voorspel met 'n maksimum temperatuur van 19°C. Die wind sal 19 km/h waai in 'n noordwesrigting. Koue weer sal vir eers bly met 'n moontlike 20°C voorspelling vir Maandag, 10 Junie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’