MOSSELBAAI NUUS - Die Mosselbaai-munisipaliteit sê hy het sedert Mei vanjaar minstens vyf keer met ongewenste stowwe by die streekswatersuiweringswerke in Hartenbos te make gehad.
Dít veroorsaak uitdagings met die bestuur daarvan.
"Ongewenste materiale veroorsaak blokkasies wat rioolstelsels kan beskadig en rioolstortings kan veroorsaak, wat skadelike gevolge vir mens en natuur kan hê."
Die munisipaliteit sê hy is etlike weke reeds besig met 'n bewusmakingsveldtog om lede van die publiek te versoek om nie enige ongewenste stowwe of materiale in dreine of stormwaterstelsels te stort nie.
"Huishoudelike olies en motorolie moet onder geen omstandighede in dreine gestort word nie. Die munisipaliteit bied 'n gratis wegdoenfasiliteit vir huishoudelike olies, insluitende gebruikte kookolie en enjinolie, by Sonskynvallei en KwaNonqaba se oorlaaistasies. Huishoudings word aangemoedig om hierdie fasiliteite verantwoordelik te gebruik.
"Besighede, insluitende voedselpersele, moet geregistreerde diensverskaffers gebruik vir die wegdoening van olie en moet bewyse van hierdie diens kan verskaf. Besighede moet aan die regulasies voldoen om boetes te vermy. Daar is verskeie diensverskaffers in Mosselbaai wat teen vergoeding kommersiële besighede kan ondersteun om regmatig van ongewenste, gebruikte olie ontslae te raak."
Die publiek word versoek om enige onwettige storting by 044 606 5000 te rapporteer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’