MOSSELBAAI NUUS - Eddy Stonehouse het die droom tydens hulle verblyf in Australië geskep. Met hulle terugkeer na Suid-Afrika het hy en sy gesin hulle hier in Mosselbaai kom vestig.
Hy het egter besluit om dieselfde droom ook hier uit te leef.
Die groep wat as Koffie vir Mans bekend staan, het met tye met minder as vyf mans begin maar het gou sterk momentum gekry met nog mans wat byna elke Woensdagoggend om 05:00 by die groep aansluit.
Van ronddryf en soek na 'n bymekaar-komplek, het die groep gou hul wortels stewig geplant by 'n koffiewinkel by De Bakke in Groot-Brakrivier.
Koffie vir Mans fokus daarop om uit te reik na die gemeenskap, kruise in Mosselbaai en omliggende dorpe te plant en om weer die grond vir God op te eis. Die groep inisieer ook gebedskringe om sodoende die gemeenskap te betrek en geloof in aksie te verseker.
"Hoekom mans? Mans moet die leiers van hulle huise en families wees - want mans was lank 'anemies' as dit kom by geloof en om hul huishoudings na God te lei," sê Riaan Murray, lid van die groep. Dit is ook deel van wat die groep glo moet verander.
"Ons het 'n verantwoordelikheid om leiers en beskermers van ons geliefdes te wees. Matteus 6:10 sê; Laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde – net so ook in Mosselbaai," sê Murray.
Hierdie kruis staan op die strandgebied by Hartenbos: Foto's: Christiaan Stopforth
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'