KLEIN-BRAKRIVIER NUUS - Die VLV Klein-Brakrivier het onlangs gesellig en in feestelike gees die jaar afgesluit.
Die hoogtepunte van dié geleentheid het onder meer die viering van Ria van Staden se 80ste verjaarsdag en Miens Willers se afskeid ná ’n vol en aktiewe 31 jaar se diens ingesluit. Die VLV het haar ’n welverdiende rustiger pad vorentoe toegewens.
Daar was ook ’n spesiale lappop wat aan een van die vroue se kleinkinders moes gaan - Petro Reinke was die báie gelukkige ontvanger hiervan.
Die VLV het wel verlede jaar sy 95ste bestaansjaar gevier, maar hulle pas met die tye aan.
“Ons is nog steeds net so relevant vandag soos in 1929. Die doelwitte vanaf ontstaan tot vandag is presies dieselfde; om vroue nuwe vaardighede te leer en ’n verskil in die gemeenskap te maak. Ons doen dit net nie meer deur vergaderings nie, maar wel deur lekker geleenthede en uitstappies.”
Diegene wat daarin belangstel om by die VLV aan te sluit kan die webblad, www.vlv.co.za, besoek en onder digitale tydskrifte kyk vir ’n goeie oorsig oor waarna hulle kan uitsien.
Die nuwe jaar spring weer op Dinsdag 27 Januarie om 10:00 vir 10:30 by die Reebok-gemeenskapsaal weg.
Die VLV sê hierdie eerste geleentheid is ’n moet vir almal wat meer oor die vereniging wil weet. Dit is ’n inligtingsessie oor wie die VLV is en wat vir die jaar beplan word.
Enigeen in die Midbrak-gebied wat wonder waar ’n mens nuwe vriendinne kan ontmoet, gereed is om iets nuuts te leer of graag in die gemeenskap betrokke wil raak, word aangemoedig om ’n draai te kom maak. Gaste betaal slegs R30 en daar is selfs tee en ’n eetdingetjie. Skakel Lydie by 082 928 5624 vir enige navrae.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’