GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Watter Kersvreugde is daar nou beter as dié van ’n kind? Groot Brakrivier-kinderwelsyn het onlangs 120 kinderharte met ’n Kersparty laat bokspring van opgewondenheid.
Dié kinders, tussen drie maande en 18 jaar oud, is in pleegsorg en word jaarliks voor Kersdag deur hierdie Groot-Brak organisasie bederf.
Die geleentheid bring kinders bymekaar om saam met hul pleegouers op springkastele te kom speel, worsbroodjies te eet en met draairoomyse die spyskaart af te sluit.
Die oorhandiging van die Kerspakkies bly natuurlik die hoogtepunt van die dag.
Kersvader, met wit baard en kenmerkende rooi pak, het elke kind se naam hardop uitgeroep en elkeen se geskenkpakkie met ’n stywe druk oorhandig.
Basiese toiletware soos ’n tandebosel, sepie en waslappies vorm die basis vir elkeen se pakkie, maar dis glád nie al nie - lekkergoed, speelgoed, skryfbehoeftes, en spesifieke verrassings soos ’n Superman- of Barbie-hemp het gesorg vir die wow-oomblikke wanneer die pakkies oopgemaak is.
Van Groot-Brak se kinders rondom die Kersboom.
Die organiseerders sê die afwagting op die kinders se gesigte wanneer Kersvader arriveer en die vreugde om hul eie naam vir ’n pakkie te hoor maak beslis al die vooraf reëlings die moeite werd.
Groot Brakrivier-kinderwelsyn het elkeen wat die sukses van die dag moontlik gemaak het hartlik bedank.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’