Breaking News
GROOT BRAK-RIVIER NUUS - ‘n 8-jarige seun van Groot Brak-Rivier is in ‘n kritieke toestand nadat hy gistermiddag deur ‘n voertuig in Amy Searlestraat raakgery is.
Volgens die Groot-Brakrivier-polisiewoordvoerder, sers Chantel Marais, het die voorval gister laatmiddag gebeur.
‘n Manlike persoon wat ‘n sekuriteitsmaatskappy se voertuig bestuur het, het die kind raakgery.
Die seun, ‘n graad 3 leerder aan die Groot-Brakrivier Primêre Skool, is na die Mosselbaai Provinsiale Hospitaal afgevoer.
Vanoggend is die kind na die George Provinsiale Hospitaal oorgeplaas. “Dit is ‘n rooigeval en die kind het baie seergekry.”
Die polisie ondersoek ‘n saak van roekelose- en nalatige bestuur.
'Ons bring jou die nuutste Groot Brak-Rivier, Tuinroete nuus'