MOSSELBAAI NUUS - Dis geen geheim dat lewensomstandighede al hoe meer druk raak as gevolg van die ekonomiese klimaat. Nie net kry huishoudings al hoe swaarder met die gevolg dat kinders dikwels aan die korste ent trek nie, maar so ook voel welsynsorganisasies al hoe meer die druk.
Die Mossel Bay Care Centre, wat reeds jarelank betrokke in die gemeenskap is, het hierdie week 'n baie welkome hupstoot gekry. Die organisasie het 'n voedingskema by Ridgeview Primêre Skool waarby 102 kinders betrokke is. Hulle werk is nie net tot Mosselbaai beperk nie, maar hulle bied ook nasorgklasse aan vir agt hoërskool- en 10 laerskoolleerders in Powertown. Boonop gee hulle ook kospakkies aan ses behoeftige huisgesinne.
Verlede Vrydag, berig Jenny Bunyon, het sy 'n oproep ontvang van Kfm dat 'n persoon wat slegs as Charmaine geïdentifiseer kan word, hulle organisasie vir 'n
R10 000 donasie genomineer het. Onder die genomineerdes was organisasies wat deur KFC se Add Hope-projek ondersteun word. Die Mossel Bay Care Centre is een van hierdie organisasies.
Maandagoggend kom die oproep toe dat die Mossel Bay Care Centre die gekose wenner van hierdie welkome finansiële ondersteuning is. Jenny vertel dat hulle haar vroeg Maandagoggend gebel het. Sy was slaggereed om meer oor hulle organisasie te vertel, maar toe kry sy net die blye nuus dat hulle die donasie gekry het.
Voor in die middel sit Jenny Bunyon van die organisasie, saam met leerders van Ridgeview Primêre Skool.
"Dit is 'n baie moeilike tydperk vir ons hierdie tyd van die jaar. Mense het geen idee hoe welkom hierdie skenking is nie," berig Delene Berry van die organisasie. "Dis so 'n lekker gevoel om te weet dat mense tot in die Kaap die werk waardeer wat ons doen en ons ondersteun."
Delene vertel ook dat hulle nog etlike planne in die pyplyn het,
"Volgende jaar gaan ons ook 'n naskoolsentrum hê in Sonskynvallei. Daar sal klaskamers wees, asook 'n rekenaarkamer en 'n biblioteek is in die beplanning."
Die organisaie begin eersdaags met 'n vaardigheidontwikkelingsprogram, waar hulle vir jeugdiges wat uit die skool is en nie werk nie, wil bemagtig sodat hulle ekonomies aktief kan wees.
"Ons wil probeer om jongmense hulle waardigheid terug te gee en weg te hou van dwelms, diefstal, vroeë swangerskappe, en dies meer."
Delene herinner ook die gemeenskap dat dit winter word en daar 'n groot behoefte aan klere is. "Ons wil baie graag vir die kinders in ons nasorgklasse winterklere koop. Ons verkoop lootjies om geld in te samel hiervoor.
Indien iemand belangstel om ons te ondersteun, kan hulle ons kontak. Die pryse wat gewen kan word is twee nagte verblyf vir twee persone by 'n Protea Hotel of 'n wildsrit vir twee by Botlierskop."
Vir meer inligting, kontak Delene en Jenny (060 504 6470).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'