MOSSELBAAI NUUS - Gedurende die afgelope jaar of twee het voornemende vakansiegangers, in 'n poging om 'n gunsteling-vakansieplekkie in Hartenbos te bekom, tot desperate stappe oorgegaan.
Wat aanvanklik as 'n wagstanery deur die nag begin het, het later van tyd in 'n kampeerdery ontaard.
Verlede jaar het tot 30 kampeerders selfs vir 'n paar dae lank voor die ATKV-kantore in Hartenbos uitgekamp net om seker te maak dat hulle met geruste harte kon voordeel trek uit die voorkeurbesprekings.
Volgens die ATKV-oorde se webblad wat betref besprekings vir Hartenbos, lyk dinge vanjaar heelwat anders.
Daar word beweer dat, as gevolg van klagtes ontvang oor die kampeerders se teenwoordigheid, daar nou 'n nuwe stel regulasies in plek is.
Die nuwe regulasies, aldus die webbladsy vir voorkeurbesprekings wat op 1 November gedoen kan word, is soos volg:
- Gaste wat persoonlik wil bespreek, moet nou vooraf hulle name in 'n register laat opteken wat hulle in staat sal stel om op 1 November kampeerplek of huisvesting te bespreek.
- 'n Tydsduur van 48 uur word aan gaste verleen vir die opteken van hulle name in die register voor die datum, 1 November.
- Sodra die gas se besonderhede in die register ingevul is, word 'n nommer aan die gas toegeken.
- Gaste sal op 1 November van omstreeks 07:00 af volgens hulle nommers in die register gehelp word om hulle besprekings te doen.
Dit word baie duidelik gestel dat geen kampering voor die ATKV-kantore toegelaat sal word nie.
Daar sal ook teen gaste wat nie die nuwe regulasies gehoorsaam nie, opgetree word.
ARTIKEL: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'