MOSSELBAAI NUUS - Party onthou hom as 'n bekwame Wiskunde-onderwyser. Ander as 'n suksesvolle sakeman. Meeste waarskynlik as iemand met 'n besonderse groot hart. Hoe dit ookal sy, Kalla Briesies sal gemis word.
Kelvin of Kalla Briesies (56) soos hy alombekend was, is verlede week op Donderdag, 21 Junie aan huis in Gardeniastraat aan 'n hartaanval oorlede. Hy sou op 9 Julie sy 57ste verjaarsdag gevier het. Gebore in Brandstraat 20, het hy skoolgegaan aan All Saints Primêre Skool en matriek geslaag aan Hoërskool Sao Bras, waar hy ook later in die onderwys was. Sy studies het hy voltooi aan die onderwyskollege op Oudtshoorn.
As 'n geliefde oud-Vollie, vertel sy vrou van 27 jaar, Helen, dat die Vollies in groot getalle by sy begrafnis verwag word.
Sy sê Kalla was nie iemand vir koerante en foto's nie, ten spyte van sy vrygewigheid. Vir hom was dit nie belangrik dat sy naam aan sy weldade gekoppel moes word nie.
Helen en ander familielede, waaronder van sy susters sê dat sy passie mense en dus hulle veilige vervoer was. Hy het veral die lot van bejaardes op die hart gedra.
Die vervoerbesigheid, waarvoor hy so bekend was, het hy begin na sy uittrede uit die onderwys.
Helen vertel dat hy eers met een kombi begin het en die res, soos die gesegde lui, is geskiedenis. Kalla het 'n besonderse verhouding met sy broer Ruben, ook in die vervoerbesigheid, gehad. Nie net het hulle baie tyd saam spandeer nie, maar Ruben was 'n sakementor vir Kalla.
Van Kalla se ander uitstaande eienskappe meen Helen, was sy stiptheid. Hy het min geduld gehad met werksmense wat laat kom en des te meer, passasiers laat oplaai. Ook as pa, meen sy, was hy streng in groot liefde teenoor hulle dogter en drie seuns. Sy sê hy het 'n baie hoë premie op opvoeding en geleerdheid vir sy kinders gestel. Hy het nog 'n dogter uit 'n vorige verhouding en is die oupa van 'n jong seun.
Familielede meen hulle sal Kalla se groot gasvryheid wanneer hulle kom besoek het, baie mis. Helen vertel dat Kalla groot waardering vir die senior lede van sy familie gehad het en dat jy hom gou kon emosioneel maak as daar van dié wat hom reeds ontval het, gepraat is. Sy beskryf hom as 'n allemansvriend.
Oral waar hulle gegaan het, het hy moeite gemaak om aan mense tyd af te staan met 'n vinnige inloer.
Helen vertel ook dat Kalla bykans elke Saterdag uit eerbied vir mense wat hy geken het, begrafnisse bygewoon het, soms selfs tot twee op 'n Saterdag. Maar Sondae, was dit gesinstyd. Dit is dan wat hy sy aandag totaal aan sy huismense sou skenk en hulle omtrent sou trakteer.
Kalla Briesies se begrafnis is môre, 30 Junie om 10:00 by die huis, Gardeniastraat 1 en ook om 11:00 vanuit die All Saints-kerk in Uitbreiding 8.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'