HARTENBOS NUUS - Laerskool Hartenbos se gr. 5-leerders het op Donderdag, 8 Mei, vir ’n les buite die klaskamer vergader, ter herdenking aan die 100 jaar van die Afrikaanse taal se amptelike bestaan.
Ter viering hiervan het die Hartenbos-jukskeiklub die laerskoolleerders meer oor jukskei, ’n tradisionele Afrikaanse sportsoort, geleer, die reëls verduidelik en ’n demonstrasie gelewer.
Die klub se oudste jukskeispeler, Koot Swart (92), het ook aan die demonstrasie deelgeneem. Swart speel al vandat hy 13 jaar oud is.
Die twee jongste spelers is Janell Albertyn (10) en Tilana Landman (19), wat ook die dag teenwoordig was.
Jukskei het vermoedelik met die Voortrekkers begin, ’n groep Europese setlaars wat gedurende die 15de eeu na die Kaap van die Goeie Hoop gekom het.
Die gr. 5-leerders leer meer oor jukskei. Foto: Gabriélla Siebritz
Die doel van die speletjie is om ’n skei (’n bottelvormige stuk hout) oor ’n afstand van tussen 10 m en 16 m te gooi om ’n houtpen wat in ’n sandput geplant is om te stamp. Dit word in spanne gespeel met gewoonlik vier lede elk.
Die eerste span wat presies 23 punte kry, wen die wedstryd. As die span meer as 23 kry, begin hulle weer van nul af.
Van die skool se kinders het ook die dag volgens Afrikaanse idiome aangetrek, as deel van die taalvieringe.
Luan van der Merwe (10) het die idioom ‘met sy kop in die wolke’ voorgestel, met ’n hoed met wolkies wat al om sy kop gehang het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’