MOSSELBAAI NUUS - Loandré Olivier het onlangs verskeie toekennings van die Internasionale Mej. Junior Suid-Afrika-kompetisie huis toe gebring.
Loandré is met nege pryse bekroon, waaronder die regisseur se keuse, die loopbaanwenner, die openbare keuse - 1ste prinses en die Royalty Award.
"Ek het nooit gedink ek sou met soveel pryse wegstap nie. Ek is baie trots op myself dat ek dit kon aanpak," het sy vir Mossel Bay Advertiser gesê.
Die kompetisie het vanaf 2 tot 6 Julie in Kaapstad plaasgevind. Oor dié vier dae het die deelnemers aan 'n aantal aktiwiteite deelgeneem, wat onderhoude en 'n pajamapartytjie om mekaar beter te leer ken, insluit.
Alhoewel sy net ses jaar oud is, is Loandré gemaklik in die wêreld van skoonheidskompetisies - die bewyse hiervan is die Wes-Kaapse kleure waarmee sy vir haar modelwerk spog.
Loandré sê sy wou verlede jaar reeds aan die Internasionale Junior Mej. Suid-Afrika-kompetisie deelneem, maar het die kans misgeloop aangesien dit buite Durban op 'n boot plaasgevind het.
"Ons het gehoop dat hulle eendag 'n bietjie nader sal kom. Toe ons hoor hulle kom Kaap toe, moes ek dadelik inskryf," het Loandré en haar ma, Yolande, vir die Advertiser gesê.
Loandré Olivier is net ses jaar oud, maar is gemaklik in die wêreld van skoonheidskompetisies.
Sy het vir die kompetisie voor-berei deur haarself aan haar ma se woorde te herinner: "Gaan en geniet jouself net."
Alhoewel Loandré dit moeilik gevind het om vriende met haar mededeelnemers te maak in die wete dat hulle teen mekaar te staan sou kom, was 'n hoogtepunt vir haar beslis die ondersteuning wat almal vir mekaar gehad het.
"Dit was so mooi dat ons nog so klein is, maar almal kan saamstaan," sê sy.
Omdat sy die regisseur se keuse-prys gewen het, word 50% van haar fooie om volgende jaar in Orlando, Florida, in die VSA deel te neem, betaal.
Loandré en haar familie is van Hartenbos. Sy is 'n leerder by Laerskool Hartenbos en is by die agentskap Ace Models ingeskryf.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’