MOSSELBAAI NUUS - 'n Trotse JL van Rensburg sit tans by Baylor Universiteit in Texas, Amerika, en dink aan sy toekoms.
Die naam mag dalk 'n klokkie lui, want dié jong man het onlangs 'n silwermedalje gewen in gewigstoot by die Wêreldbyeenkoms vir o.20-atlete in Lima, Peru.
Mossel Bay Advertiser het verlede week by sy ouers op Mosselbaai ingeloer om te hoor wie is die jong man agter die gewigstootbal en hoe trots hulle op hom is.
Nou vertel hy kortliks van onlangse prestasie en sy toekomsplanne waar hy tans in die VSA sit - Baylor het vir hom 'n beurs aangebied om daar te studeer.
"Ek voel baie trots op dié prestasie. Behalwe vir die medalje, is ek ook trots dat ek 'n persoonlike beste afstand behaal het," vertel hy.
'n Afstand van 20.74m het die silwermedalje aan hom besorg. Slegs twee sentimenter agter as die wenner.
Sy ouers beskryf hom as 'n "gentle giant, wat God in al sy besluite ken". Dít bevestig hy ook in sy eie woorde: "Alle dinge wat ek bereik is net as gevolg van God."
En vir ander jong atlete is sy advies eenvoudig: As 'n mens hard werk en jou absolute beste gee, is dit onmoontlik om dit nie te maak nie.
Sy volgende doelwit is om die beste atleet te wees wat sy universiteit al gehad het. "Gevolglik wil ek deelneem en die eindronde haal by die volgende Olimpiese Spele in 2028 in Los Angeles."
Vir die onmiddellike toekoms, word daar egter ook ernstig op studies gefokus.
"Ek studeer meganiese ingenieurswese en vir die volgende paar maande gaan ons net akademies hard werk en seker maak ek berei goed voor vir die seisoen wat voorlê."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’