MOSSELBAAI NUUS - Die oudste inwoner van Bardolino Aftree- en Leefstyloord in Voorbaai, Mosselbaai, het onlangs sy 102de verjaarsdag gevier.
Dié inwoner, Ian Louw, is deur personeel van Bardolino met ballonne en muffins op sy verjaarsdag, Dinsdag, 5 November verras.
Louw, gebore in die jaar 1922, het dié groot mylpaal gevier omring deur sy kinders, kleinkinders en agterkleinkind.
Die inwoners van Bardolino het saam met die familie feesgevier, en het ook lekker roomys saam geniet.
Volgens Louw se dogter, Elsa de Villiers, is een ding wat haar pa so 'n merkwaardige man maak, die feit dat hy nog selfvoorsienend is. "Nog tot die begin van die jaar, elke dag werk hy op sy rekenaar," sê Elsa.
Sy familie sê sy verstand is helder en hy geniet nog goeie gesondheid.
Ian verjaar saam met sy kleindogter Lirie Horak (agter), Hennie Horak, Pieter de Villiers, sy dogters Elsa en Anita (voor).
Louw se lewe het in Paterson in die Oos-Kaap begin waar hy grootgeword het. Ná skool, as 'n jong man in Qonce, voorheen bekend as King William's Town, het Louw as 'n klerk begin werk en het later gekwalifiseer as 'n geoktrooieerde rekenmeester. Hy was vir baie jare in dié beroep.
Hy het in 1955 met Valerie Louw getrou. Vanuit hul huiwelik is drie kinders gebore: twee dogters, Elsa en Anita, wat albei op Hartenbos woon en 'n seun, Daneel Louw wat in Roodepoort, Gauteng, woonagtig is.
Valerie is 'n paar maande na Louw se aftrede in 1995 oorlede.
Toe hy jonger was, was Louw 'n "kranige jagter en goeie skut". Elsa het vir Mossel Bay Advertiser vertel, haar pa het met Bisley-skyfskiet (langafstand skyfskiet) verskeie medaljes en bekers in sy lewe gewen.
In 1996, is Louw Engeland toe vir Bisley-skyfskiet.
Louw is geen vreemdeling vir erkenning nie. In 2013, toe hy 91 was, het hy 'n sertifikaat as "Senior Citizen of the Year" in die Oos-Kaap vir sy betrokkenheid in die gemeenskap ontvang.
In 2017 het hy ook 'n toekenning van die jagtersvereniging vir sy jarelange ondersteuning, opbou, uitbrei van en bydra tot die sportsoort ontvang.
Louw se familie het oor die jare gegroei. Tussen sy drie kinders is daar al vier kleinkinders verwelkom, waarvan die oudste ook op Hartenbos woon.
Daar is selfs al 'n ágterkleinkind. Dié is nou maar eers drie maande oud.
Ian Louw, met sy agterkleinkind.
Maar, net omdat jy nou al 'n agterkleinkind het en ouer as 'n eeu is, beteken dit nie jy moet by die huis sit nie.
Louw het op die groot ouderdom van 100 jaar besluit om voltyds terug te keer werk toe en is tans die eksekuteur van 'n boedel en is die kurator van drie trusts.
En sy geheim vir 'n lang lewe? "Die genade van ons hemelse Vader, gesond eet en leef. Moenie rook nie, drink matig, oefen gereeld en wees positief. Stel belang in wêreldgebeure en werk om jou brein gesond te hou."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’