Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie, Ian Cameron, was die gasspreker by die burgemeestersontbyt wat vanoggend by die Mosselbaai-gholfklub gehou is.
Dié ontbyt is die agtste van sy soort deur Mosselbaai-burgemeester Dirk Kotzé aangebied.
Baie mense sal vir Cameron onthou van die “Shut up!”-voorval met voormalige minister Bheki Cele so ’n paar jaar gelede.
Behalwe vir sy voorsitterskap dien hy ook tans op die parlementêre ad hoc-komitee wat bewerings van polisiekorrupsie ondersoek.
Cameron se toespraak was rondom die tema ‘Veiligheid is ons besigheid’ gesentreer, en hy het nie met die inleiding doekies omgedraai nie.
“Ek wil begin deur te sê, en dis ’n bietjie van ’n vrywaring tot ’n mate, dat ek een van die mense is wat daarin glo dat die staat nie die monopolie op jou veiligheid moet hê nie.
“Ons moet ’n totale kopskuif maak van die idee dat die staat goed gaan regmaak, of, suiwer dat as ek reg gestem het, iemand dit alleen gaan regmaak, of dat die polisie alleen verantwoordelik is vir my veiligheid en die munisipaliteit het die luukse om net te fokus op munisipale wetstoepassing. Daai dae is verby.”
Hy het gesê hy gaan nie ’n klomp bloederige stories deel nie, maar het wel aan die getalle geraak.
“Verlede week het die waarnemende minister van polisie die nuwe misdaadstatistiek bekendgemaak en die lank en die kort daarvan is, ons sien nog steeds oorlog-tipe statistiek wanneer dit kom by geweldsmisdaad. Drie mense word per uur vermoor in die land, en dis omtrent 71 per dag.”
Cameron sê dit maak nie saak wie jy is of aan watter struktuur jy behoort nie, niemand het meer die luuksheid om te kan sê ‘[veiligheid] is nie my verantwoordelikheid nie’.
Hy sê dit is iets wat Mosselbaai en die Mosselbaai-munisipaliteit aangegryp het - die aanspreeklikheid en verantwoordelikheid vat om die probleem aan te val eerder as om te wag dat iemand anders dit doen.
“Ons moet verstaan dat as ons nie verantwoordelikheid gaan vat om byvoorbeeld betrokke te raak by ’n buurtwag, of ’n plaaswag, of ’n GPF, of dan nou selfs om die hof by te woon en te help opvolg met sake en wat gebeur in die hof nie, kan ons nie verwag dat daar ’n wesenlike ommekeer kan kom nie.”
Hy sê hy noem spesifiek die hof weens die persentasie sake wat werklik opgelos word - dis omtrent 12%, sê Cameron. En dan praat ’n mens nog nie eers van vervolging in die hof nie.
Die portefeuljevoorsitter vir gemeenskapsveiligheid, raadslid Leon van Dyk, het later tydens ’n kort spreekbeurt gesê in Mosselbaai haal sowat 33% van sake die hof.
Cameron het afgesluit met so ’n paar punte oor hoe ons na vore moet tree en verantwoordelikheid moet vat vir die toestand en die omgewing waarin ons is:
• Ons moet die werklikheid erken - die Wes-Kaap leef in ’n bubble.
• Wees feitlik korrek, moenie ’n krisis skep en dinge onnodig aandik nie, en neem eienaarskap voor jy skuld toeken.
• Bou gedissiplineerde samewerking en strukture.
• Tree konsekwent op, nie emosioneel nie.
• Beskerm en beloon moed - give credit where it is due.
VIDEO: Ian Cameron oor veiligheidsverantwoordelikheid en hoop
Video: Linzetta Calitz
Alle opbrengste vanaf die ontbyt gaan aan die burgemeestersfonds, wat verdienstelike sake in die gemeenskap ondersteun en nie deur belastingbetalersgeld befonds word nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’