MOSSELBAAI NUUS - Jy sien dit in die nuus, en nou het dit Mosselbaai gehaal.
Maar wat beteken die bevestiging van bek-en-klouseer vir jou as gewone inwoner?
Volgens Agri Wes-Kaap se streeksverteen-woordiger vir die gebied, Henry Meyer, sal dit nie in hierdie stadium Jan Alleman se bewegings in dorpsgebiede juis beïnvloed nie.
Waar dit jou bewegings kan raak, is wanneer jy buite die dorp moet rondbeweeg. Met die eerste geval op 'n melkplaas buite Hartenbos bevestig sal kontrolepunte op sommige paaie binne 'n 10 km-radius van die plaas teenwoordig wees.
Meyer, 'n melkboer in die Ruiterbos-omge-wing, sê persone of sakeondernemings wat produkte of dienste aan boere lewer sal geraak word weens die streng toegangsbeheer wat toegepas sal word.
Hoewel produkte van beeste met bek-en-klouseer geen bedreiging vir mense inhou nie, kan positiewe gevalle wel produksie aan die boer se kant raak. Volgens Meyer sal die boer, eerder as die verbruiker, die ekstra kostes wat met regulasies gepaardgaan absorbeer. 'n Voorbeeld wat Meyer gee is die kalk.
Hy en van sy werknemers het Woensdag-oggend om 06:00 kalk by die Haelkraal-afdraai in Ruiterbos gestrooi.
Weens kalk se hoë pH-vlak tree dit as nog 'n ontsmettingsmiddel teen bek-en-klouseer op.
Wanneer 'n voertuig daaroor ry, kan die fyn stof wat opgeskop word by plekke uitkom waar ontsmettingspuite miskien nie kan nie, sê Meyer.
Wat Mosselbaai se produksie betref, sê hy vleis en melk wat uit dié gebied kom is nie noodwendig noemenswaardig as daar na die groter Suid-Afrikaanse prentjie gekyk word nie.
Hy sê wel die beskikbaarheid van pro-dukte soos afval en sopbene kan beïnvloed word, aangesien dié dele van beeste vernietig moet word wanneer hulle geslag word, omdat dit die virus dra.
Sy advies aan inwoners oor die algemeen is om gehoor te gee aan regulasies waar hulle dit teëkom, en om nie in hierdie tyd onnodig of vir plesier tussen plase rond te ry nie - dit kan ook help om die verspreiding te keer.
Vorige artikels:
- Foot-and-mouth confirmed in Mossel Bay
- Foot-and-mouth disease: know the signs in cattle
- Test results expected soon for suspected Mossel Bay foot-and-mouth disease case
- R100m made available for foot-and-mouth disease vaccines
- Breakthrough in fight against foot-and-mouth disease
- Foot-and-mouth disease poses major threat as farmers step up biosecurity
- Boere in Mosselbaai hou asem op: Verdagte bek-en klouseer-geval ondersoek
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’