MOSSELBAAI NUUS - Die Wolslim Henne/Haan vanoor die Mosselbaai-omgewing het Saterdag 10 Oktober by Misty Valley, net buite Hartenbos, saamgetrek om Internasionale Wol- en Garingdag te vier.
Die groep het die geleentheid na die Dol-oor-wol-dag herdoop, en tientalle hekelaars, breiers, wewers en selfs ’n kruissteekentoesias het dit bygewoon.
Terwyl sommige lede aan hul eie projekte gewerk het en oor ’n koppie tee of koffie gekuier het, het ander rondbeweeg om inspirasie uit hul medelede se projekte te put en wenke en raad by die skeppers daarvan in te win.
Nog ’n opwindende hoogtepunt van die byeenkoms was ’n uitstalling van gebreide en gehekelde items, waarvan sommige meer as 80 jaar oud is. Dié antieke artikels is deur verskeie lede se ma’s en oumas gemaak.
Van komberse en tafeldoeke tot dooprokke en fyn gehekelde doilies - daar was nie ’n enkele bywoner wat die viering verlaat het sonder om dié besondere stukke te bewonder nie.
Hoewel Dol-oor-wol-dag net een keer per jaar plaasvind, bewys hierdie Wolslim Henne/Haan dat brei- en hekelwerk heel jaar gevier kan word.
Vir meer inligting oor die groep en hul byeenkomste, kontak Doubell (083 262 8084) of sluit aan by die Facebook-groep Die Wolslim Henne/Haan (Brei/Hekel)
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’