HARTENBOS NUUS - Die Hartenbos Seefront kan binne die volgende jaar of twee ontwikkeling ondergaan.
Konstruksie aan 'n nuwe pad parallel met Dalmanutharylaan (wat Paardekraal- en Port Natallaan aan die ATKV-kant van die Seefront verbind) sal ook na verwagting in 2026 begin.
Volgens die Seefront se sentrumbestuur sou konstruksie van dié pad nog altyd deel vorm van die finale ontwikkelingsfase van die Seefront.
'n Inwoner van Dalmanutha sê egter daar is reeds sowat 10 jaar al sprake van die pad om die bykomende verkeer van die Seefront-ontwikkeling (veral in Desember) te akkommodeer, maar dit het nog nie gerealiseer nie.
Hoewel daar die afgelope ruk sekere maatreëls vir verkeer in hul straat geïmplimenteer is, meen die inwoner dit is nie genoeg nie én, nou is daar boonop die hersoneringsaansoek, wat verdere ontwikkeling kan beteken.
'n Hersoneringsaansoek vir erf 6265 waarop die Seefront geleë is, is onlangs by die Mosselbaai-munisipaliteit ingedien. Dié aansoek is onder meer om nog besighede te akkommodeer.
Herman Pretorius, die hoof- uitvoerende beampte van Origin Property Group ('n 50%-aandeelhouer van Hartenbos Seefront), het die aansoek bevestig en ook gesê planne vir die nuwe pad is vanjaar deur die munisipaliteit goedgekeur, vir konstrukise in 2026.
Dalmanutharylaan is aan dié kant verbind met Port Natallaan.
In kommunikasie tussen die inwoner en ander betrokke rolspelers is daar egter op verskeie geleenthede vroeëre datums aangedui vir wanneer padwerke klaar sou wees.
Pretorius sê hulle het aanvanklik beplan om in 2018 al met die finale fase van ontwikkeling te begin, "maar ons het na aanleiding van gesprekke met ons ankerhuurders die uitbreidings eers uitgestel".
"Toe kom Covid - en die sentrum is nou eers gereed vir die finale ontwikkelingsfase," sê hy.
Die munisipaliteit het bevestig die hersoneringsaansoek is tans in proses en die publieke deelname het reeds in Maart 2025 verstryk.
"Die munisipaliteit wag vir uitstaande inligting vanaf die ontwikkelaar/aansoeker om die aansoek verder te verwerk."
Die munisipaliteit bevestig ook daar is wel 'n terreinontwikkelingsplan van die pad ontvang. Dié is in Februarie goedgekeur. "Die nodige wayleave, oftewel gebruiksreg-konstruksiewerkpermit, is ook uitgereik deur die munisipaliteit. Dit strek tussen April 2025 en April 2026."
Hiér kruis Dalmanutharylaan en Paardekraallaan mekaar naby die ATKV se konferensiekantoor.
Gevra of die nuwe pad 'n vereiste was vir die eerste fase van die Seefront-ontwikkeling, het Pretorius gesê, "Dit was 'n vereiste vir die voltooiing van die totale ontwikkeling, dit wil sê teen die einde van die laaste fase van die ontwikkeling wat nou sal plaasvind."
Hy sê die Seefront-ontwikkeling is goedgekeur op die basis dat dit in fases gebou sal word.
"Die opgradering van Dalmanutharylaan vorm deel van die finale fase van die Seefront-ontwikkeling wat vir 2026/27 beplan word."
Reguit aan is Hartenbos Seefront se Paardekraallaan-ingang; regs is Dalmanutharylaan.
Die Hartenbos Vakansiedorp Huiseienaarsvereniging (HVHV) het bevestig dit is 'n Seefront, ATKV, HVHV en Mosselbaai-munisipaliteit aangeleentheid.
"Die HVHV werk saam met al die belangegroepe vir die beste uitkoms vir ons lede."
Die ATKV, wat die aandeelhouer van die ander 50% van die Seefront is, sê hy volstaan ook met Pretorius se kommentaar.
Die munisipaliteit sê dit kan nie in hierdie stadium bepaal word of verdere ontwikkeling of hersonering van erf 6265 onder-hewe is aan die bou van die pad nie, "maar [dit] sal deel vorm van die oorweging daarvan".
"Alle vereistes, kommentare ontvang, nie-nakoming van voorwaardes en impak van die aansoek sal holisties geëvalueer en oor besluit word," sê die munisipaliteit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’