Gallery Video
HARTENBOS NUUS, VIDEO en GALERY - Hartenbos Seefront se heining vol slotte - meeste inwoners of vakansiegangers ken hierdie prentjie.
Hierdie slotte word egter nou stelselmatig weens skade en veiligheidsredes verwyder.
Met dít in gedagte, wil ons graag weet: Wat is jóú slotstorie?
Het jy al self een of twee teen die heining by Hartenbos se strand opgesit? Of het jy miskien die oomblik ervaar toe ’n paartjie, ’n familie of selfs iemand op hul eie ’n slot aan hierdie heining gehang het?
Soos ’n mens langs die heining afstap, sien jy slotte wat as liefdesverklarings dien en ander wat huldeblyke aan afgestorwe geliefdes verewig. Meeste het ook datums op; daar is selfs ’n houtlepel waarop “2026” en “E + J + H + Z + B + J” pronk. Laat ’n mens wonder wat hierdie ses mense se verbintenis is ... dalk niggies en nefies wat almal onder die familie se houtlepel vir pak slae deurgeloop het, ’n groep met ’n voorliefde vir kook, of bloot mense wat besluit het hulle wil anders wees?
VIDEO: Wat is die stories agter die slotte by Hartenbosstrand?
Video: Linzetta Calitz
Hoe dit ook al sy, hierdie slotte (en ander voorwerpe) verteenwoordig byna ontelbare herinneringe - deel gerus joune.
Hartenbos Seefront sê hoekom:
“Elke slot wat aan ons heining gehang is, het ’n storie vertel - van liefde, herinnering en spesiale oomblikke wat mense hier wou verewig,” het Hartenbos Seefront op 21 Augustus op sy Facebook-blad gesê.
“Ons het dit met waardering gesien en dit het ’n besondere betekenis aan ons ruimte gegee. Met tyd het die slotte egter begin roes en die gewig het die heining beskadig. Dit het ’n veiligheidsrisiko geword en die herstelwerk kos duisende rande.
“Ons moes dus die moeilike besluit neem om die slotte te verwyder - nie omdat ons die gebaar minder ag nie, maar omdat ons die veiligheid en volhoubaarheid van ons fasiliteite moet beskerm.
“Ons wil egter nie hê dat u herinneringe verlore gaan nie. Indien u graag u slot wil terughê, kan u gedurende die volgende week met ons fasiliteitsassistent kontak maak en u slot uit die krat kom uitsoek en hou.
“Ons sê opreg dankie vir die liefde en gedagtes wat u hier gelaat het. Hartenbos Seefront bly ’n plek waar herinneringe gemaak en gekoester word - en ons waardeer u begrip dat ons hierdie stap moes neem om dit vir almal veilig en mooi te hou.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’