GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Die Mosselbaai-munisipaliteit is besig om die riviermonding by Groot-Brakrivier gereed te kry vir water wat uit die Wolwedansdam vrygelaat word om die rivier deur te breek na die see toe.
Die water vanuit die Wolwedansdam sal na verwagting op Donderdag, 8 Desember uitgelaat word.
Dit word beplan vir tussen 18:00 en 20:00 ná afloop van die hooggety.
Stappers wat van die Wolwedans-staproete wil gebruik maak, word gemaan om versigtig te wees en die roete eerder vir 'n paar dae te vermy.
Verskeie omgewingsfaktore word in ag geneem om te bepaal wanneer die rivier deurgebreek word. Die optimale tyd is tydens springgety, omdat wisselwerking met die gety noodsaaklik is om die gewenste effek te kry.
Die oopmaak van die plaaslike riviermondings word in oorleg met 'n multi-dissiplinêre span gedoen waar etlike partye inspraak het. Volgens die kommunikasiebeampte van die Mosselbaai-munisipaliteit, Cornelle Carstens, word die proses in oorleg met streng maatreëls gedoen soos vervat in die departement omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning se bestuursplanne vir riviermondings.
'Ons bring jou die nuutste Groot-Brak, Tuinroete nuus'