GROOT-BRAKRIVIER NUUS - 'n Inwoner en sakeman van Groot-Brakrivier is woedend nadat hy vir die leuens van 'n sogenaamde sweiswerker geval het.
Arthur van Vuuren beweer hy is in September 2024 deur 'n inwoner van Green Haven, Dwayne Murray ingedoen.
Van Vuuren het twee bedrogklagte teen Murray aanhangig gemaak en sedertdien is daar reeds 13 aanklagte teen hom.
Die sake teen hom is onafhanklik deur verskeie slagoffers gemaak.
Die presiese bedrae ter sprake kon nog nie bevestig word nie.
Van Vuuren sê hy het met Murray te doene gekry nadat hy verlede jaar op Facebook ‘n advertensie geplaas het, waarin hy versoek dat iemand hom met sweiswerk sal bystaan om ‘n hek te maak.
“Dwayne het by my winkel ingestap en gemaak of hy my ken. Hy het gesê hy het al hondekos by my gekoop en dat hy my met die werk kan help.”
Van Vuuren het daarna staal aan Murray verskaf vir die bou van die hek.
“Hy was glad met sy tong en het die volgende dag vir my die raam van die hek gewys. Dit het goed gelyk en ek het solank vir hom geld oorbetaal.”
Van Vuuren wou intussen ook palisade heinings laat oprig en Murray het volgens hom aangebied om die projek te behartig.
“Hy het vir my ‘n kwotasie gestuur en ook foto’s van vorige soortgelyke projekte, wat hy glo behartig het. Ek was regtig beïndruk met dit wat ek gesien het, en het solank ‘n bedrag vir die bestelling van die hout vir hom oorbetaal.”
Van Vuuren het egter snuf in die neus begin kry toe Murray daarna met ‘n lys verskoning kom om nie die projek van stapel te stuur nie.
Hy het onder meer foto’s van ‘n onbekende kind op ‘n drup aan Van Vuuren gestuur en gesê hy kan nie op die betrokke dag werk nie omdat sy kind in die hospitaal siek is. Die vermoede bestaan dat dit egter nie Murray se kind op die foto is nie.
“Ek het na sy kwotasies gekyk en die nommer wat daarop verskyn gebel en kom toe by ‘n vrou in die Transkei uit.”
Die adres van 'n vorige projek, wat Murray beweer hy voltooi het in Kusweg en vir Van Vuuren gegee het as verwysing, was ook 'n leuen.
Van Vuuren is reguit na die polisiestasie op Groot Brak en het twee aanklagte van bedrog teen Murray aanhangig gemaak.
Die ander sake is glo siviele sake.
Murray sal weer op 11 Februarie in die Groot-Brakrivier-landdroshof verskyn op aanklagte van bedrog en diefstal.
Polisiewoordvoerder sers Lauriane Botha het bevestig Murray is op 14 Desember by sy woning op Green Haven in hegtenis geneem en hy bly in aanhouding tot sy volgende verskyning.
Murray het nog nie gepleit op die aanklagte teen hom nie en sal vermoedelik tydens sy volgende hofverskyning om borgtog aansoek doen.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’