GROOT-BRAKRIVIER NUUS - ’n Somber atmosfeer heers vandag by die Groot-Brakrivier-polisiestasie ná die afsterwe van ’n geliefde kollega en vriend, AO Sias Weyers (56).
Weyers het aan die einde van Augustus ’n beroerte gehad en is daarna in die hospitaal opgeneem. Hy is Sondagmiddag, 14 September, oorlede.
“Die stasie het ’n deel van sy fondasie verloor,” het Groot-Brak se bevelvoerder, kapt. Francois Henzen, vanoggend gedurende hul daaglikse parade gesê.
“Hy was ’n rots en steunpilaar, nie net by die stasie nie, maar in die gemeenskap ook. Hy het altyd ’n vriendelike woord gehad en het nie geskroom om kollegas te help nie, al was dit met werk of net ’n oor om te luister. Sy plekkie is leeg hier, maar hy is vir altyd in ons harte.”
Weyers se kollegas beaam wat Henzen sê oor sy rol binne én buite die stasie. Een kollega, AO Louis Crause, meen hy was soos familie.
“Ons werk al meer as 30 jaar saam, so dit voel vir my of ek ’n broer verloor het. Hy was stil, eenkant, maar een van die heel beste speurders saam met wie ek in my lewe gewerk het. Hy was ’n genie in sy werk. Hy was toegewyd soos ek nog nooit iemand in my lewe gesien het nie.”
Crause sê die stasie se woordvoerder, sers. Lauriane Botha, het vir Weyers só mooi in haar boodskap saamgevat.
Haar hart is net so swaar met die afskeid van hierdie geliefde kollega. “Woorde voel so klein wanneer ek dink aan die groot mens wat jy was. Jy was meer as net ’n kollega, meer as net ’n uniform - jy was ’n mens met ’n hart vol liefde, ’n gees vol krag en ’n siel wat lig gebring het waar dit donker was.
AO Sias Weyers
“Ek dink terug aan die oomblikke toe jy altyd ’n woord van wysheid of ’n skouer van steun gehad het. Jy het nooit net gewerk nie - jy het geleef met trots, jy het gedien met oorgawe, en jy het mense raakgesien op maniere wat ander miskyk.
“Jy het respek verdien sonder om dit ooit te eis, en jou nalatenskap lê nie net in jou diens nie, maar in die lewens wat jy aangeraak het.
“Ons sal jou lag mis, jou stem, jou teenwoordigheid wat altyd kalmte en sekerheid gebring het. Dit is moeilik om te dink dat jy nie meer hier is nie, maar ek hou vas aan die wete dat jy jou rus gevind het. Mag jou siel in ewige vrede wees, weg van pyn en swaarkry, veilig in die arms van ons Hemelse Vader.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’