GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Frances Louw, ’n inwoner van Groot-Brakrivier, het op Saterdag 16 Mei die rype ouderdom van 100 bereik. “Vandag [Saterdag] vier ons nie sommer net ’n verjaarsdag nie; ons vier ’n eeu van lewe!” het een van haar dogters, Suzanne Theunissen, op dié dag gesê.
Theunissen en haar suster, Lennie Benade, het saam met vriende en familie by Groenkloof-aftreeoord, waar Louw tans woon, vir hierdie mylpaalverjaarsdagviering bymekaargekom.
Louw is in Montagu gebore en het haar getroude lewe in Somerset-Oos gewoon. Haar man, Philip, is in 2006 reeds oorlede. Hulle het vier kinders, 11 kleinkinders en 16 agterkleinkinders.
Benade sê haar ma het sowat drie jaar gelede haar heup by hul strandhuis op Die Eiland gebreek. Ná sy weer kon loop het sy na Groenkloof toe getrek. “[Saterdagoggend] was ook om aan Groenkloof en die inwoners ’n groot dankie te sê vir hul liefde, geduld en toewyding en die mooi manier waarop hulle na hul mense kyk. Ons waardeer hulle regtig!” sê Benade.
Frances Louw saam met haar dogters, Suzanne Theunissen en Lennie Benade, en hul onderskeie mans, Pieter en Siebert.
“Mam se lewe is ’n getuigskrif van veerkragtigheid, liefde en geloof en veral dankbaarheid vir die nóú. Vir ons, die jonger geslagte, is mamma ’n lewende legende. Mam wys vir ons dat ouderdom slegs ’n getal is, maar dat wysheid en grasie in die hart lê,” sê Theunissen.
Frances Louw met van haar verjaarsdaggeskenke.
Sy sê daar is soveel herinneringe van haar ma, van eerste viool in vele orkeste speel en haar plek in ’n gemeenskap vol staan. “Mam het eintlik ’n wêreld sien verander, tegnologie sien kom en gaan, en bygebly, en deur dit alles ’n baken van lig vir ons gebly.
“Mam, 100 jaar. Dit is 10 dekades en mamma was daar. Dankie dat mam die fondasie is waarop hierdie familie gebou is. Mag ek en Lennie daarop voortbou.
“Ons eer mam, ons het mamma lief, en ons vier ’n wonderlike 100 jaar!”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’