GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Die Groot-Brakriver GPF het onlangs sy Fluitjieprojek in die strate van Groot-Brak geloods.
Die GPF-lede en ander rolspelers het vroegoggend op Vrydag 28 November fluitjies in die gemeenskap uitgedeel met die idee om op geslagsgebaseerde geweld (GGG) te fokus - dit is dan ook die GPF se projek vir die landswye 16 Dae van Aktivisme-veldtog wat op 25 November afgeskop het.
Die forum sê dit was 'n suksesvolle bewusmakingsinisiatief. Lede van die polisie, wyksraadslede en 'n sendelinggroep van Noorweë, Youth With a Mission, het vir hierdie uitreik kragte saamgesnoer.
Die span het van 06:00 tot 07:30 die fluitjies asook inligtingspamflette aan die gemeenskapslede uitgedeel. Die pamflette het belangrike inligting rondom seksuele misdade bevat; onder meer wat dit is, hoe om dit moontlik te verhoed, of hoe om dit te hanteer en te rapporteer as iemand 'n slagoffer daarvan is.
Jacky Carstens, die GPF se voorsitter, sê hulle het al meer as 1 000 fluitjies in die Greenhaven- en Midbrak-gebiede uitgedeel. Die Midbrak-buurtwag het Saterdag tydens sy worsbroodjieverkope by Pick n Pay Fraaiuitsig ook van die pamflette en fluitjies uitgedeel.
Volgens die GPF het die projek dit ten doel om inwoners, veral kwesbare persone, te bemagtig deur vir hulle 'n eenvoudige maar doeltreffende hulpmiddel te bied om in noodgevalle aandag te trek, en om GGG-bewustheid te verhoog.
"Die samewerking tussen plaaslike owerhede, gemeenskapstrukture en internasionale vrywilligers beklemtoon die gedeelde verbintenis om 'n veiliger en meer ingeligte gemeenskap te bou."
Die GPF het Elize Bester ook bedank vir die vertaling van die pamflette van Engels na Afrikaans.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’