MOSSELBAAI NUUS - Die lang arm van die gereg het vanuit Mosselbaai tot in die Oos-Kaap gewerk om 'n 47-jarige vrou wat onder die Da Gamaskop-polisie se mees gesoekte verdagtes is, tot orde te roep.
Die verdagte het volgens inligting verskaf deur die polisie, nagenoeg 50 keer van verskillende name en vanne gebruik gemaak om vervolging te ontduik.
Sy staan tereg op verskeie aanklagte van diefstal en aldus die kommunikasiebeampte van die Da Gamaskop-polisie, kaptein Wollie Fourie, word sy ook vermoedelik met die aktiwiteite van sindikate verbind.
Die verdagte, op wie se spoor die Da Gamaskop-polisie drie jaar lank sonder sukses was, is onlangs deur die stasie se hoof van ondersteuningsdienste, luitenant-kolonel Chris Meiring en die sektorbevelvoerder van landelike veiligheid, adjudant-offisier Pierre Botha in hegtenis geneem.
Die twee lede het die verdagte met behulp van die polisie se blitspatrollie en ander ondersteuningsdienste in 'n area in Port Elizabeth aangekeer.
Volgens Fourie het die verdagte selfs al 'n keer die polisie probeer mislei deur te beweer dat dit nie sy nie, maar haar "tweelingsuster" is wat al vorige kere in arres vir diefstal was. Die bewering is later deur die polisie weerlê.
Die verdagte is intussen positief met die saak wat ondersoek word, verbind. Die ondersoekbeampte in die saak is ao A Stokes van die Da Gamaskop-polisie se speurafdeling.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'