MOSSEL BAY NEWS - Sowat 60 inwoners van regoor Mosselbaai het onlangs vergader om misdaad in die dorp en wat hulle moontlik daaromtrent kan doen te bespreek.
"Dit is tyd om ons strate, huise, gemeenskappe en alledaagse lewe terug te vat om te help om Mosselbaai 'n veiliger plek te maak."
Só het die uitnodiging na die vergadering by die Holy Nativity Anglikaanse Kerk gelees.
Lt.kols. Virgie Julius, Edy Williams en Ashley Michaels, die onderskeidelike bevelvoerders van die KwaNonqaba-, Da Gamaskop- en Mosselbaai-polisiestasies, het ook die geleentheid bygewoon. So ook die KwaNonqaba GPF-voorsitter, Shadrack Shishana, en ander lede van gemeenskapsveiligheid.
Die sameroeper vir die vergadering, Dexter Brinkhuis, het met die aanvang daarvan benadruk dat dit 'n niepolitiese geleentheid was, en een waar die doel is om metodes te vind om bande te smee met reeds bestaande strukture in die stryd teen misdaad, eerder as om hulle te kritiseer.
Die inwoners het hul bekommernisse en uitdagings rondom onder meer die rapportering van misdaad gedeel, spesifiek die veiligheid van iemand wat misdaad aanmeld. In antwoord daarop het Julius meer oor die proses rondom ooggetuiebeskerming verduidelik.
Die vertrek was dit ook eens dat 'n groot deel van die verantwoordelikheid by die gemeenskap lê - as jy iets sien of weet, moet jy dit rapporteer, of dit nou jou familie, vriende of vreemdelinge is.
'n Holistiese benadering is ook benadruk: as probleme byvoorbeeld in 'n huishouding ontstaan, spoel dit oor na skole en die wyer gemeenskap. Ingryping moet dus reeds op daardie vlak gebeur.
Brinkhuis sê dit was verblydend om die passie om te help om misdaad te beveg onder die mense te sien.
"Wat egter teleurstellend is, is dat honderde mense hul misnoeë omtrent misdaad op sosiale media uitspreek, maar hulle woon nie hierdie soort insiggewende byeenkomste by nie. Almal het 'n stuiwer in die armbeurs te gooi, maar weinig van hulle wil skouer aan die wiel sit om 'n daadwerklike bydrae te lewer."
Hy sê daar het duisende Mosselbaaiers op sy kennisgewing op verskillende platforms gereageer, maar die hoeveelheid mense wat opgedaag het, weerspieël dit nie, wat vir hom baie teleurstellend is.
Die idee was om 'n bestuurskomitee te verkies wat die groep tans bekend as Rescue Mossel Bay Anti-crime se belange sal voortdra. Daar was egter nie genoeg mense teenwoordig daarvoor nie.
'n Interimkomitee is intussen verkies tot die volgende geleentheid wanneer daar hopelik meer mense teenwoordig sal wees. Die datum vir die volgende vergadering sal nog bekendgemaak word.
Die komitee lyk só:
- Voorsitter: Virgil Harris
- Ondervoorsitter: Past. Dennis Williams
- Sekretaresse: Ashlene Claassen
- Ondersekretaris: Charles Jaxa.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’
 
                 
                     
                    
                    
                    
                    
                    
                 
                             
                         
                         
                 
                 
                 
                 
                 
                 
                                     
                                     
                                     
                                     
                                 
                                         
                                         
                                         
                                         
                                     
                                     
                                     
                 
                         
                                 
                                 
                                 
                                 
                                 
                                 
                                