MOSSELBAAI NUUS - Drie gesinne is geruk met die afsterwes van hul geliefdes ná twee huisbrande onderskeidelik in Uitbreiding 8 en Brandwag.
Thelma Frans (61) en Delina Jacobs (64), beide van Uitbreiding 8, is in die een huisbrand oorlede op 3 Augustus terwyl Jakobus Hekswa (45) die volgende dag in die ander brand in Brandwag omgekom het.
Frans se broer, Peter Naudé, het namens haar familie 'n huldeblyk gelewer."Thelma Frans is en was 'n liewe mens. Sy het grootgeword in Tarka en ons was agt kinders in ons huis. Sy is op 2 Februarie 1963 gebore en het lank by Santos Hotel gewerk. Sy het haar skoolloopbaan voltooi by Ridgeview."
Naudé sê sy suster laat drie broers en een suster agter en het geen kinders gehad nie.
"Vir my was dit die seerste ooit om my suster so te verloor. Ek wens dit vir niemand toe nie. Dankie aan almal wat bystand verleen het, ons waardeer dit opreg. Ons dank die Hemelse Vader dat hy haar aan ons geleen het."
Jacobs se familie het gesê hulle is nog in rou en verwerk nog haar dood. Hulle het verkies om nie in die stadium 'n huldeblyk uit te reik nie.
Hekswa se broer, Daniël, sê Jakobus was maar 'n stil outjie en was in sy laer- en hoërskool jare 'n kranige sportman. Hy het voor sy afsterwe bou- asook tuinwerk gedoen. Hy laat sy twee seuns en vrou agter.
Daar was ook 'n huisbrand in die KwaNonqaba-gebied, maar niemand is beseer nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’