MOSSELBAAI NUUS - Die Mosselbaaise munisipale raad het vandag, 28 Augustus, terugvoer van die gedragskodekomitee ontvang rakende die sake teen raadslede Leon van Dyk en Lodewyk Coetzee.
Van Dyk, wyk 10-raadslid en portefeuljevoorsitter vir gemeenskapsveiligheid, is onskuldig bevind op die twee aanklagte teen hom, wat gevolg het ná ’n beweerde onderonsie met ’n munisipale werknemer by die gesamentlike beheersentrum (JOC) op 3 Desember.
Die komitee het vir Coetzee, raadslid vir wyk 8, skuldig bevind op die enkele aanklag teen hom, ná aanleiding van ’n Facebook-plasing wat hy in Februarie vanjaar gemaak het.
Die plasing was na bewering neerhalend teenoor ’n spesifieke bevolkingsgroep.
Items wat voor die raad gedien het verskaf die besonderhede van beide raadslede se verhoor en die gepaardgaande uitslag daarvan. Beide Van Dyk en Coetzee se items is eenparig deur die raad aanvaar en daar was geen verdere bespreking daaroor nie.
Beide raadslede is vir kommentaar genader. Coetzee het gesê hy het geen. Indien Van Dyk kommentaar lewer, sal dit bygewerk word.
Leon van Dyk-saak
Een bewering teen Van Dyk was dat hy gedurende ’n opleidingsessie ’n (nou voormalige) munisipale werknemer in die teenwoordigheid van ander individue geminag en/of verkleineer het.
Dié sessie is deur die munisipaliteit gereël en by die JOC gehou. Die ander was dat hy met die bestuur en/of administrasie van ’n munisipale departement ingemeng het, sonder die mandaat om dit te doen.
Gedragskode
Dit het betrekking tot twee dele van die gedragskode vir raadslede:
• ’n Raadslid moet die funksies van die amp in goeder trou, eerlik en op ’n deursigtige manier verrig en ten alle tye in die beste belange van die munisipaliteit optree, en op so ’n manier dat die geloofwaardigheid en integriteit van die munisipaliteit nie in gevaar gestel word nie.
• ’n Raadslid mag nie, tensy volgens wet voorgeskryf, met die bestuur of administrasie van enige departement van die munisipale raad inmeng nie, tensy dit deur die raad gemagtig is.
Pleit onskuldig
Van Dyk het onskuldig gepleit, waarna getuies vir beide die munisipaliteit en Van Dyk geroep is.
Volgens die verslag oor die uitslag van die dissiplinêre ondersoek het die komitee op dele gefokus wat óf nie in dispuut was nie, óf waarvoor daar geloofwaardige bewyse (soos videobeeldmateriaal) was.
Die komitee het bevind dat getuienis daarop dui dat die voorval uit voortgesette geraasversteurings deur deelnemers aan ’n opleidingsessie ontstaan het. Dit was tussen ongeveer 09:00 en 15:10 op die betrokke dag.
Die sessie is deur die munisipaliteit se afvalbestuursdepartement georganiseer.
Getuies
Beide die gewese werknemer (getuie vir die munisipaliteit) en direkteur Elize Nel (getuie vir Van Dyk) het volgens die verslag bevestig dat talle versoeke aan elkeen van hulle gerig is, deur óf Van Dyk óf personeel van die JOC, om die geraaskwessies aan te spreek.
Hulle het ook toegegee dat die saak anders hanteer moes word.
Die verslag dui verder die volgende aan:
• Die beweerde woordewisseling tussen Van Dyk en die werknemer het omstreeks 15:10 plaasgevind.
• Geeneen van die getuies het die beweerde woordewisseling direk aanskou het nie, en geeneen kon bevestig wat daar tussen die twee gesê is nie.
• Beeldmateriaal, wat nie in dispuut geplaas is nie, het ’n opname van die voorval getoon.
• Uit die beeldmateriaal is bepaal dat daar geen verkleinerende of oneerbiedige taal gebruik is nie, en ook nie verkleinerende of oneerbiedige gebare waargeneem is nie.
Bevinding
Op die eerste klag is Van Dyk eenparig onskuldig bevind. Met ’n stem van 3 tot 1 is hy op die tweede klag ook onskuldig bevind.
Een komiteelid was van mening dat inmenging wel plaasgevind het.
Die meerderheid het egter bevind dat, gegewe die feite aangebied, daar nie genoegsame bewyse was om ’n saak van inmenging uit te maak nie.
Die uitslag van die ondersoek moet nou aan die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, Anton Bredell, gestuur word.
Lodewyk Coetzee-saak
Coetzee se klag was na aanleiding van ’n sosialemediaplasing wat na bewering neerhalend en/of beledigend en/of onvanpas was teenoor ’n spesifieke bevolkingsgroep, die “Afrikaners”.
Die plasing is in Engels gedeel en het onder meer die volgende bevat:
“I am ashamed of the actions of my culture as a Afrikaner. God placed me in this time in history, because if I were to be an adult during the apartheid years, I would have been the same as Beyers Naudé and other Afrikaners that stood up against their own. Think again at how you raise your children, God teaches us that we should love our neighbour as ourselves. The Afrikaner often sees themselves as a Christian people, then live it!”
Gedragskode
Dit het betrekking tot een deel van die gedragskode vir raadslede:
• ’n Raadslid moet die funksies van die amp in goeder trou, eerlik en op ’n deursigtige manier verrig en ten alle tye in die beste belange van die munisipaliteit optree, en op so ’n manier dat die geloofwaardigheid en integriteit van die munisipaliteit nie in gevaar gestel word nie.
Pleit onskuldig
Coetzee het onskuldig gepleit, waarna twee getuies geroep is en Coetzee se regsverteenwoordiger sy saak gestel het. Coetzee het geen getuies geroep nie.
Die komitee het na inagneming van die bewyse bevind dat Coetzee skuldig daaraan is dat hy onvanpaste opmerkings teenoor ’n spesifieke bevolkingsgroep, die “Afrikaners”, gemaak het.
Eenparige opinie
Volgens die verslag oor die uitslag van die dissiplinêre ondersoek is dit die komitee se eenparige opinie dat, hoewel Coetzee se plasing dalk nie opsetlik neerhalend of beledigend was nie en waarskynlik bedoel was om sy persoonlike opinie weer te gee in terme van sy grondwetlike regte, die plasing nietemin onvanpas was gegewe die beginsels in die gedragskode vir raadslede.
“Alle raadslede het vrylik gekies om ’n plegtige eed af te lê om die gedragskode vir raadslede na te kom.
”Die komitee betwis nie raadslid Coetzee se reg op vryheid van uitdrukking soos vervat in die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika nie,” lui die verslag.
“Hierdie reg kan egter nie uitgeoefen word sonder behoorlike inagneming van die vrywillige eed, en die verantwoordelikhede en verpligtinge wat met die openbare amp gepaardgaan, soos uiteengesit in die gedragskode vir raadslede.”
Omstandighede
Die komitee het alle versagtende omstandighede ook in ag geneem:
• Hierdie was Coetzee se eerste oortreding voor die gedragskodekomitee.
• Coetzee se persoonlike omstandighede.
• Sy verskoning op sosiale media kan as ’n teken van berou gesien word.
Hiervolgens is die eenparige besluit geneem dat Coetzee ’n formele waarskuwing moet ontvang.
Die uitslag van die ondersoek moet nou aan die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, Anton Bredell, gestuur word.
Coetzee mag binne 14 dae van die raadsbesluit by die minister appèl aanteken.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’