MOSSELBAAI NUUS - "Dit is diep ontmoedigend om dit te ervaar, veral wanneer ons so hard werk om 'n betroubare beeld te bou," sê Surine Pietersen, bestuurder van die Seeplaas-gastehuis in Groot-Brakrivier.
Pietersen en die gastehuisspan is die slagoffers van 'n beweerde verblyfbedrogspul.
Pietersen het eers in Desember 2024 die teleurstellende ontdekking gemaak dat die vakansieverblyf waaroor sy in beheer was, uitverhuur word deur iemand wat homself as die eienaar voorgegee het.
Nadat 'n voornemende gas skermgrepe met Pietersen gedeel het van boodskappe tussen hulself en Seeplaas se 'eienaar', het Pietersen opgemerk dat 'n vals logo en e-posadres gebruik word om te adverteer en besprekings vir die eiendom te neem.
Die beweerde swendelaar het selfs foto's van die perseel gebruik om meer geloofwaardig voor te kom.
"Ek het haar dadelik ingelig dat die individu waarmee sy kommunikeer het, op geen manier met Seeplaas geaffilieerd is nie. Die kontakbesonderhede, tariewe en huurreëlings wat bespreek is, was nie ons s'n nie, en die betrokke mense is nie deel van ons span nie," het Pietersen vir Mossel Bay Advertiser gesê.
Sy sê sy het nie 'n saak by die polisie oopgemaak nie, maar dit wel by Mosselbaai Toerisme aangemeld, wat dit aan die Advertiser bevestig het.
Dié organisasie het 'n e-pos aan sy lede gestuur om hulle van die beweerde bedrogspul in te lig. Seeplaas se bemarkings-bestuurder het ook onmiddellik opgetree deur dié situasie op al die platforms en groepe waarby sy betrokke is aan te meld.
Deur haar navorsing het hulle ontdek dat hierdie individu na bewering 'n bekende swendelaar is wat regoor Suid-Afrika werk.
"Dit is toe dat ons besluit het om ons eie bewusmakingsplakkaat te skep, om ander te waarsku en dit op al ons platforms te publiseer," sê Pietersen.
"Wat veral skokkend is, is hoe maklik dit blyk te wees om hierdie swendelary uit te voer, en hoe min swendelaars dink oor die skade wat veroorsaak word - nie net vir die betrokke individue nie, maar ook vir besighede soos ons s'n."
Kommentaar van die polisie is teen die ter perse gaan nog nie ontvang nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’