HARTENBOS NUUS - Die akteur Frank Opperman besoek Hartenbos met sy eenmanvertoning, Donkie, 'n komiese drama.
Die teks is deur Dana Snyman en die regie deur Gerrit Schoonhoven met Let's be Frank die vervaardiger.
In Donkie ontmoet kykers mnr Barry Swart, 58-jarige hoof van die Hoërskool Hans Oosthuizen, 'n voormalige model C-skool. Meneer Swart is 'n man in die warm stoel.
Die leerlinge se akademiese prestasie is nie na wense nie en die eerste rugbyspan het vyf wedstryde agtereenvolgens verloor. Daar is ook ernstige probleme met die leerders se dissipline, en boonop was daar 'n "voorval" in een van die klasse. Ook lyk dit of Afrikaans dalk nie meer die onderrigtaal by die skool sal wees nie. Uit talle oorde word mnr Swart se kop geëis. Meneer Swart oorweeg om te bedank, maar dan, een Maandagoggend tydens saalopening, besluit hy om sy kant van die saak te stel.
Die vertoning vind plaas op Vrydag, 12 April in die ATKV Skoffelskuur. Dit begin 19:00 en die koste beloop slegs R150 per persoon.
Kaartjies is beskikbaar by Mosskem Apteek in Hartenbos, of by Ronel (082 570 7892). Daar sal ook kaartjies by die deur beskikbaar wees. Alle fondse gaan aan die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika Gemeente op Mosselbaai.
'Ons bring jou die nuutste Hartenbos, Tuinroete nuus'