HERBERTSDALE NUUS - Nadat oom Floors Karelse van Herbertsdale die tersaaklike vorms ingevul het vir persone met spesiale behoeftes, het hy 'n belangrike besoek ontvang wat hom ferm op 'n nuwe selfbemagtigingskoers gesit het.
Dié besoek was op Vrydag, 10 Junie deur Alma Kapp van die Mosselbaai-munisipaliteit en Jorita van der Merwe van die departement van landbou. Kapp werk onder meer spesifiek met sake wat persone met gestremdheid raak.
Oom Floors is 'n flukse man en het sy besoekers van sy voorneme om tuin te maak en met die oes 'n inkomste te genereer, vertel.
Verder het hy met trots vertel hoe hy op 'n hoë ouderdom leer skryf het.
Tydens die besoek, het hy met trots sy naam op die teenwoordigheidsregister geteken.
Jorita het tydens die gesprek met oom Floors inligting gedeel aangaande marknavorsing oor gewilde groentes, hoe berekeninge gedoen moet word vir winsgewende verkope, terwyl die teikenmark ook in ag geneem moet word.
As motivering het oom Floors 'n handvol ui-saailinge gekry wat deur die departement van landbou beskikbaar gestel is. Hierdie saailinge is as 'n privaat inisiatief deur Gabriël Speelman gekweek en geskenk.
'n Vriendelike beroep word gedoen op enigiemand wat 'n oorskot saailinge het, om met Alma Kapp kontak te maak. Stuur e-pos na akapp@mosselbay.gov.za
"Ons oogmerk is om nog meer persone met gestremdhede in staat te stel om deur middel van groentetuine hulself te leer om selfonderhoudend te wees," berig Kapp.
'Ons bring jou die nuutste Herbertsdale, Tuinroete nuus'