KLEIN-BRAKRIVIER NUUS - ’n Negejarige dogterjie, Milla-Lee van Wyk, is tans in die George-hospitaal met ’n gebreekte bobeen en inwendige beserings ná ’n bakkieongeluk op die Hamelkop-pad duskant Klein-Brakrivier.
Milla-Lee was vir ’n ruk lank in die wrak vasgekeer voor die nooddienste haar kon uitkry, sê haar pa, Maurize.
Milla-Lee se jonger suster, Leah-Lee (6), was ook in die voertuig, maar het gelukkig net geringe beserings opgedoen.
Volgens Maurize, wat nie self daar was ten tyde van die ongeluk nie, het die dogtertjies saam met hul ma en haar jarelange vriend (die bestuurder) na ’n plaas in daardie omgewing gery toe die ongeluk gebeur het.
Die vriend het glo beheer oor die bakkie verloor. Hulle is van die pad af en die bakkie het gerol. Maurize sê ’n boom het op die bakkie beland en dié moes eers opgesaag word voor die nooddienste vir Milla-Lee kon bevry.
Maurize omkring die area waar hy sê Milla-Lee vir meer as ’n uur vasgekeer was. Foto: Verskaf
“’n Spesiale dankie aan almal wat haar gehelp het en ’n groot dankie aan Koos du Plessis van Premier Towing. Hy het vir ’n uur lank daar gelê met sy hand op haar bors om haar rustig te hou - ons sien hom as ’n engel.”
Maurize sê Milla-Lee se hele linkerkant van haar lyf het baie seergekry - dit is ook dié bobeen wat gebreek is. Hy sê haar skedel is ook aan hierdie kant beseer en haar oog is geswel en nog nie heeltemal reg nie. Weens haar inwendige beserings sê hy is die dokters nog versigtig om enige operasies uit te voer.
Die dogtertjies se ma het geen ernstige beserings opgedoen nie.
Susters Milla-Lee en Leah-Lee van Wyk. Foto: LilyMae Photography
Beide Milla-Lee en Leah-Lee is deel van die Future Focus Learning Centre in George. “Die skool is baie ondersteunend en die juffroue en menere kuier baie vir Milla-Lee,” sê Maurize.
Volgens hom is die bestuurder van die bakkie ook nog in die intensiewesorgeenheid. Teen die ter perse gaan kon geen van sy familielede nog bereik word nie.
Die Groot-Brakrivier-polisie ondersoek ’n saak van roekelose en nalatige bestuur.
Vorige artikel: