BOGGOMSBAAI NUUS - ’n Klein karetseeskilpadjie (loggerhead) het gister, Donderdag 5 Maart, op Boggomsbaai se strand uitgespoel.
Dié skilpadjie is dan ook die eerste een om hierdie seisoen in die Suid-Kaap uit te spoel.
Die Tuinroete DBV se Mosselbaai-tak het die seeskilpad gered en na Hartenbos-dierehospitaal geneem waar dit geasseseer is en daarna na die Twee Oseane-akwarium in Kaapstad gestuur is.
’n Span van dié akwarium het slegs twee weke gelede as deel van die Two Oceans Turtle Road Trip by Delfino’s in Mosselbaai ’n inligtingsessie oor hierdie spesiale seekreatuurtjies aangebied.
Belangrike stappe as jy ’n baba seeskilpad op die strand vind:
- Kontak onmiddellik die Stranded Marine Animal Rescue Team (Smart) by 072 227 4715, of die DBV-kantoor by 044 693 0824 of na-ure by 072 287 1761.
- Moet nié die skilpad weer in die see terugplaas nie.
- Plaas die skilpad op ’n droë lap of handdoek in ’n plastiekhouer soos ’n roomysbak/kosblik. Moenie die deksel toemaak nie en hou dit by kamertemperatuur tot ’n verteenwoordiger van Smart of die DBV opdaag.
- Moenie die skilpad probeer voer nie en hanteer dit so min as moontlik.
’n Karetseekilpadjie wat tydens ’n vorige seisoen gered is. Foto: Tersia Marais
Hoekom spoel seeskilpaaie uit?
Dit het alles te doen met seestrome. Die skilpaaie broei aan die KwaZulu-Natalse kus uit en beweeg dan in die warm Agulhasstroom suidwaarts.
In die omgewing van die Suid-Kaap verskuif die stroom en beland hulle soms in kouer water waaraan hulle nie gewoond is nie. Wanneer hulle dan op plaaslike strande uitspoel is hulle meestal hipotermies, baie swak en soms met alge en ander organismes bedek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’