MOSSELBAAI NUUS - Hoewel die eerste vyf weke van die grendeltyd reeds voel of dit in die verre verlede lê, sal 'n vrou van Mosselbaai die weldaad deur 'n oudkollega van haar pa se seun, nie maklik vergeet nie.
Danksy 'n groot toeval, asook twee oud-kollegas se jarelange vriendskap, is Kelsey September van groot verlies en moeite gespaar.
Kelsey en haar ma is voor die begin van 'n naweek op 'n Vrydagmiddag Mosselbaai Mall toe om gou inkopies te doen. "Ons het sommer vinnig net met selfone en beursies winkel toe gegaan."
Kort nadat hulle uit die winkels was, kom Neville Wildemans ook by die sentrum aan om 'n paar goed te koop. "Dit was mos maar 'n vreemde tyd met die rye wat wag om in te gaan en so aan." Toe hy na die trollies toe stap om een te vat, meen hy het "iets" hom gelei na 'n spesifieke trollie. "Ek het 'n trollie gevat en dis nes of iets vir my sê 'moenie die trollie vat nie, vat daai een' en ek stap in."
Eers toe hy Checkers binnestap, gewaar hy dat 'n mansbeursie in die ronde houer waarin koeldrank of 'n waterbottel binne die waentjie geplaas kan word, lê. Op soek na leidrade binne die beursie om die eienaar daarvan op te spoor, ontdek hy die van Domingo. Na 'n paar oproepe kom hy by Josie Domingo uit, wie se getroude dogter, Kelsey in daardie stadium nog nie eens besef het dat sy haar man se beursie in die winkeltrollie vergeet het tydens haar inkopies nie.
"Toe my pa my bel, het ek eers agtergekom dat my man se beursie weg is. Want ek het gedink my ma het ons selfone en beursies gevat en sy het weer gedink ek het," vertel Kelsey. Sy het die beursie in ontvangs geneem nog nét soos sy dit verloor het, met die kontantbedrag van R1 350 steeds daarin.
Josie het later sy dank teenoor Neville op sosiale media te kenne gegee deur te skryf: "Neville baie dankie vir jou oproep aan my. Ek dink jou pa lag vandag van bo af oor wat jy gedoen het in hierdie moeilike ekonomiese omstandighede. Ek salueer jou as mens en waardeer jou eerlikheid. Ek glo mense gaan die boodskap share om Neville tot in die hemel famous te maak."
Kelsey vertel dat haar pa, Josie en Neville se pa, Errol jarelank kollegas in diens van Toyota was. Volgens haar, was hulle was baie goeie vriende. Errol is in 'n motorongeluk oorlede.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'